‘n Dekade van Donasies

Ju-Ané Oberholzer
Windhoek Gimnasium is bekend daarvoor dat daar verskeie geleenthede vir die leerlinge aangebied word. Vir 10 jaar lank het Gimnasium alreeds baie gegroei en deur hierdie blitsvinnige ontwikkeling net meer en meer vir ons bevoorregte leerlinge gegee.
Die skool het dit goed gedink om met ‘n nuwe inisiatief te begin en gee daardeur die geleentheid aan elke jaar se matriekgroep om ook ‘n oop hand vir die skool te hê om hul dankbaarheid te toon. Soos Anne Frank ook gesê het: “Niemand het al ooit arm geword deur om te gee nie.” Nadia Brewis, ‘n Graad 12-leerling, en prefek van die leerlingraad van 2017 lug egter haar mening en sê: “Dit moet die hele matriekgroep se idee wees, en nie net ‘n idee van die leerlingraad nie.” Dis ‘n baie ou tradisie in baie ander skole dat matrieks ‘n geskenk aan die skool gee wanneer hulle die skool finaal verlaat. Aangesien ons nog relatief jonk is, het die tradisie nog nie ‘n vaste styl begin aanneem nie.
Die afgelope jare het Windhoek Gimnasium se matrieks verskeie geskenke gegee. Hierdie jaar se Graad 12-leerlinge het drie vlagpale as geskenk aan die skool op die rugbyveld laat oprig. Gedurende Interhoërwedstryde sal die landsvlag aan die middelste vlagpaal hang, met Windhoek Gimnasium se vlag aan die een kant en die opponente se vlag aan die teenoorgestelde kant. Die 2009-Matriekgroep was die eerste matriekgroep wat hierdie tradisie begin het met ‘n Bybel as geskenk. In 2010 het die Graad 12’s bankies voor die kafeteria laat neersit, 2011 se matrieks het watertenkies vir die laerskool asook hoërskool gegee. Dit is baie bruikbaar – veral in pouses! Juffrou Maretha du Plessis het gesê: “Wanneer mens ‘n pad gestap het, los jy net jou voetspore agter. Hierdie voetspore word egter deur die wind verwaai, soos wat tyd aanstap en verdwyn dan later heeltemal. Daarom is daar besluit om iets fisies agter te laat wat die skool altyd aan daardie spesifieke matriekgroep kan herinner.”
Vyf jaar gelede het die matrieks van 2012 ‘n megafoon geskenk. Die tweede vlagpaal is deur die 2014 Graad 12-leerlinge geskenk en nog bankies deur die 2015‑Matriekgroep. Juffrou Maretha verduidelik hierdie inisiatief: “Dit was ‘n behoefte van ons eerste matriekgroep en het sedertdien ‘n tradisie geword.” Die rede hoekom ons skool dit begin het is omdat niemand graag vergeet wil word nie! Elke matriekgroep is uniek en wil graag onthou word, dit is ook lekker om na ‘n paar jaar terug te kom skool toe en dan die geskenke te sien wat die betrokke matriekgroep aan die skool gegee het.”

Meneer Danie Junius sê die rede hiervoor is: “Eerstens om dankie te sê en tweedens om iets tasbaars na te laat. Tans word daar beplan om ‘n muur met ‘time capsules’ vir elke jaar se matrieks te bou. Dis ‘n muur waarin elke jaar se matrieks ‘n nissie het waarbinne hulle dan iets plaas wat hulle met hul dertigjarige reünie weer kan oopmaak. Al sê jy dat jy nie kan wag om klaar te maak met skool nie, bly jou skool ‘n anker vir jou.”
Vir alle toekomstige Graad 12-leerlinge gee juffrou Maretha die volgende bietjie raad: “Die geskenke moet bruikbaar en duursaam wees, want dit moet vir baie jare behoue bly!” Mede-Gimmies, as jy weer oor die pragtige skoolterrein van Windhoek Gimnasium loop, kyk bietjie rondom jou en let op na wat al die vorige matrikulante al vir ons skool gegee het uit suiwer dankbaarheid en trots vir ons skool. “Ons maak nie ‘n lewe deur wat ons kry nie, maar ons maak ‘n lewe deur wat ons gee,” is die bekende woorde van Winston Churchill wat elkeen van ons in ag moet neem wanneer ons weer iets gee.