’n Sokkie in sokkies
Wiaan Louw, Pro-Ed AkademieDie sokkie was soveel meer as net ’n groot makietie waar jong mense hulle in ’n sosiale kuier kon geniet. Dit was ’n bymekaarkoms van skoliere van wyd en syd. Daar om mekaar te ontmoet, leer ken en aan die einde van die dag weg te stap met nuwe vriendskappe wat ’n leeftyd sal hou.
Dit was ’n geleentheid van eenvormigheid, om alle skole bymekaar te bring vir samehorigheid, gees en sommer net lekker jol.
Die aand van gees het sesuur by die binnenshuise hokkiebaan begin. Die huidige matrieks van Edugate het die aand beheer en het hul bes gedoen om enige ongewenste gedrag kort te knip. Verskeie sokkiegangers het opgemerk dat hul baie veilig gevoel het gedurende die geesdriftige aand.
Die leerlinge wat vir die aand opgedaag het, moes elk tien dollar toegangsfooi betaal en kon ook nie met hul skoene dans nie. Daar was selfs ’n sokkie-stalletjie waar belangstellende sokkies kon koop.
Die getal leerlinge wat in die hokkiesentrum opgedaag het, was enorm. Dansers het die dansvloer vol gestaan en die sitplekke en snoepie-area was ook stampvol. Die musiek, in die begin, was lekker sokkie-musiek uitgebalanseer met verskeie genres van losdans-musiek en lateraan meer van die “freestyle’’ genre.
Die sokkie het geduur tot sowat ’n uur voor middernag, maar groot groepe het vroeër begin uittree. “Die geselligheid en pret wat op die dansvloer met mekaar gedeel is, was iets spesiaal,” sê Edward Smith.
Ek reken vele privaatskoolgangers sal die sokkie lank onthou. Op die dansvloer het groot groepe ’n sirkel gevorm en sommer net met oorgawe gedans. “Line dancing“ op footloose en die paartjies wat “slow dance” in mekaar se arms. Dit was ’n bymekaarkoms vir die boeke.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article