NAPSO KUNS- EN KULTUURWEEK: ‘N FEES UIT DIE BOEKE!

Wiaan Louw
Die derde NAPSO- Kuns- en Kultuurfees was ‘n reuse-sukses en Swakopmund, ons tuisdorp, het weereens bewys dis absoluut die beste plek om ‘n kompetisie aan te bied. Die ligte seebries en koel weer laat almal lekker ontspan. Dit was egter ook ‘n naweek vir kultuur, waar elke leerling sy unieke, kreatiewe talente kon wys.

Die naweek het begin met die amptelike opening wat by die Privaatskool Swakopmund (PSS) se spoggerige saal gehou is. Hier is leerders, onderwysers, familie en vriende verwelkom en bedank vir hulle bydrae tot die glansgeleentheid.

Direk na die opening het die fees afgeskop met drama en gedigte, redenaars en sang, instrumentale opvoerings en danse - én die besigtiging van die mooiste kunswerke. Die leerders, wat van al die uithoeke van ons land gereis het om die spoggeleentheid by te woon, was nogal senuagtig, maar tog opgewonde. Elkeen het beslis sy héél beste gegee. Alles het natuurlik onder die vergrootglas van die wakende beoordelaars geskied. Die leerders het vir elke inskrywing hul regmatige erkenning vir deelname ontvang. Vir elke kategorie is ‘n itemwenner deur die beoordelaars aangewys en vreugde en blink oë het die hele storie vertel.

Pro-Ed-personeel, in samewerking met PSS-personeel, het hul staal gewys deur van hierdie uitdagende kuns- en kultuurfees ‘n sukses te maak. Hulle het maande voor die fees begin planne maak en reëlings is in die fynste besonderhede uitgewerk. Juf. Riette Burger het die leisels geneem en het van die kopseer ‘n mooi herinnering gemaak. “Vir ‘n oomblik was dit effens stresvol, maar as ek terugkyk, was dit lekker,” was juf. Riette se woorde. Die Gr11’s van die onderskeie skole het gehelp met registrasie, orde en oplossings van probleme tydens die twee dae en het ‘n uitmuntende taak verrig.

Pro-Ed se Duitse Gr. 9 en 10- leerlinge, onder leiding van juf. Renate, beplan in ‘n toer na Duitsland in 2018 en hulle het hierdie spoggeleentheid gebruik vir fondsinsameling. Die lekkerste koeke, terte asook lipleklekker kerriemaalvleis is verkoop. Vir die senuwees en kalmte het hulle yskoue koeldrank of ‘n stomende beker koffie aangebied.

Die fees is Vrydagaand, 16 September, op ‘n hoogtepunt afgesluit toe kategoriewenners genooi is om aan ouers, familie, vriende en die Swakopmund gemeenskap hul uitsonderlike talent te wys. Juf. Rina en juf. Lizet het hul baie goed van hul taak gekwyt deur net die beste in elke leerling na vore te bring in die wennerskonsert. Die bekende Brandt van der Westhuizen was die seremoniemeester. Oor die konsert het juf. Rina opgemerk: “Dit was ‘n goeie afsluiting van ‘n suksesvolle fees.”

Pro-Ed spog met 66 toekennings van 33 inskrywings en 6 kategoriewenners! Pro-Ed kan nie méér trots op sy leerlinge en onderwysers wees nie. Dit sit nie in elkeen om aan ‘n kultuurkompetisies deel te neem nie, maar Pro-Ed leerders het duidelik gewys hulle word nie so vinnig die skrik op die lyf gejaag nie. Selfs van die eerstespanrugbyspelers het deelgeneem en koppe laat draai met hulle gedigte.

Pro-Ed is ‘n skool met ‘n verskil en Pro-Ed leerders máák daardie verskil.