Plastiek is die 21ste eeu se dood
Janka BreytenbachPlastiek is soos ’n monster wat daagliks groei, en ons as mens is diegene wat die monster voer.
Wanneer plastieksakke weggegooi word, eindig dit gewoonlik in stortingsterreine, waterweë of in die see waar dit tot 1000 jaar kan neem om te ontbind tot klein partikels wat dan ons grond en water besmet. Die gewildheid van plastiek het in die 1950’s begin toeneem en raak nou buite beheer. 8,3 Triljoen kilogram plastiek is al wêreldwyd geproduseer - volgens ’n studie in die tydskrif Science Advances, ’n publikasie uitgereik deur die American Association for the Advancement of Science - en daar is geen aanduiding dat die hoeveelheid gaan verminder nie. Wetenskaplikes sê dat teen 2050 nog 12 triljoen kilogram plastiek geproduseer gaan word. Wat dié hoeveelheid nog meer skrikwekkend maak, is dat die meeste van die plastiek wat geproduseer word net een keer gebruik word.
BPA, ’n chemikalie wat in plastiek voorkom, kan ’n bydraende oorsaak van vetsug, swak skildklierfunksie, misvorming van babas, verhoogde diabetes, hartsiekte en bloeddruk, sowel as miskrame wees.
Daar is maklik nog honderde redes waarom ons ons plastiekgebruik drasties moet verminder.
Hier is ’n paar wenke vir die vermindering van plastiek gebruik:
·Wanneer jy winkel toe gaan, dink twee keer voordat jy vir ’n sak vra. As dit net een of twee items is, benodig jy nie ‘n sak nie, of neem materiaalsakke saam met jou kruidenierswinkel toe sodat jy nie ’n plastieksak hoef te koop nie.
·Koop groente en vrugte individueel. Weeg jou groente/vrugte en sit dit dan in ’n materiaalsak of mandjie.
·Oorweeg dit om jou volgende nuwe tandeborsel met ’n bamboestandeborsel te vervang.
·In plaas van kleefplastiek, gebruik beeswaks om jou kos geseël te hou. Kos kan in glasbottels of lappe gestoor word.
·Wanneer jy in ’n restaurant is, vra jou kelner om die strooitjie terug te neem as jy ’n drankie bestel wat nie een nodig het nie.
·Moenie nuwe CDs of DVDs koop nie, alles is deesdae op die internet beskikbaar.
· Gebruik pepperminte in plaas van kougom. Kougom word gemaak van ‘n sekere soort plastiek. Gebruik eerder lapdoeke in plaas van weggooibare doeke. Dit help die omgewing en jy spaar geld.
·Gebruik skeermesse met vervangbare lemme in plaas van weggooibare skeermesse.
·Moet nie oorstokkies gebruik nie - dis in elk geval sleg vir jou ore.
·Koop jou brood by ’n bakkery, hulle bied gewoonlik ’n papiersak as opsie.
As ons nie die monster ophou voer nie gaan die monster ons opeet.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article