Rugby is dalk nie vir sissies nie, maar wel vir sussies

Helene Bam
Die 8-jarige Zandra Steenkamp van Edugate Akademie op Otjiwarongo het haar nie laat afsit deur opmerkings soos “rugby is tog nie vir meisies nie, wê-wêwê-wê”.
Toe sy en haar tweelingboetie, Louwrens, die begin van die jaar skool toe is, het sy gou besluit rugby-oefeninge lyk na baie meer pret as haar netbal-oefeninge.
En toe die skool se tjokkerspan op ’n naweek-oefenkamp gaan, het sy gevra sy wil saamgaan. Kort voor lank was dit amptelik: Louwrens se sussie is ook in die span.
Vra jy vir Zandra, of Zani soos baie haar noem, hoekom sy rugby speel, sê sy: “Want ek hou nie van netbal nie.”
Zandra het by die pasafgelope Privaatskolenaweek menig keer die koppe laat draai.
“Pa, Pa, kyk daar’s ’n meisie in daai span!” het een jongeling verbaas laat hoor. “Los uit die meisies en konsentreer op die rugby,” het die pa gou terug laat hoor.
Met boksterte wat in die lug wip, speel Zandra net so hard soos al die seuns in haar span. En daarom het sy selfs in een van die wedstyde doellyn toe genael en vir haar span ’n drie gedruk.
Vra ’n mens haar watter wedstryd sy die meeste geniet het, antwoord sy sonder om te skroom: “Die een waarin ek ’n drie gedruk het.”
Zandra sê sy wil nooit ophou rugby speel nie, want rugby is nie “boring” nie.