Teenstrydigheid tussen jonk en oud
Venessa De WaalTussen vandag se jong mense en ouer generasies kom daar gereeld konflik voor. Óf dit nou kom by kultuur, geloof óf selfs morele waardes. Die jong mense gaan agteruit met die tegnologie en die ouer mense verstaan nie die tegnologie nie. Al kom hulle dit nie altyd agter nie, gaan albei agteruit op hulle eie manier. Die punt bly staan, dat albei foute sien in die ander en dit is ’n feit wat nie met ’n towerstaffie verander kan word nie.
Volgens bejaardes weet die jonger generasie nie van “oom” en “tannie”, “asseblief” en “dankie” nie. Dit kom vir hulle normaal voor om hulle ouers as “jy” en “jou” aan te spreek. Hierdie is as gevolg van die Engelse taal wat oorheersend is in alle skole. Dit is die taal wat oral gebruik word: by die werk, in tegnologie of selfs net vir alledaagse gesels. Jy (you) en jou (your) kom natuurlik voor as gevolg van die jonger kinders wat vroeg aan Engels blootgestel word en dit dan in hulle elke daagse lewe gebruik.
“Hierdie generasie tree op asof die lewe hulle alles skuld,” as ek ’n rand gekry het vir elke keer wat ek al dit gehoor het sou ek al ryk wees. Dit beteken nie dat ek nie saamstem nie. Daarmee stry ek glad nie. Hulle verwag dat alles vir hulle gegee sal word, sonder enige werk. Mens kry min ’n jong kind wat bereid is om te werk vir ’n goeie toekoms, werk en ’n goeie lewe. Dit kan gesien word met die standaard van skole se slaagpersentasies wat so laag is. Die jonger kinders is gewoond aan die idee dat dit nie nodig is om hard te werk nie, aangesien hulle met slegs 33 - 40% op skool sal slaag.
Vandag se kinders het nie meer soveel respek vir bejaardes, onderwysers en selfs vir mekaar nie. Onderwysers is daar om kinders op te voed maar omdat minder kinders omgee oor hulle akademiese prestasies sal meer kinders geneig wees om glad nie na ’n onderwyser te luister nie. Hulle doen net wat hulle wil in die klaskamer en versteur dan ook die kinders wat wel iets van hulle lewens wil maak. Die mate van respek wat kinders wel vir ander mense wys hang ook af van verskillende familie-en-vriende groepe, asook hoe die kind grootgemaak was. Baie ouers leer nie meer vir hulle kinders van basiese respek nie, omdat hulle te besig is met hulle eie probleme en werk.
Die jeug is meer depressief as in die ou tye. Een van die faktore wat ’n rol speel is dat vandag se ouers te besig is met werk om enige tyd aan hulle kinders te gee. Vandag se ouers is ook geneig om te veel druk op hulle kinders te plaas wanneer dit kom by hulle akademie. Die kinders kan nie altyd hierdie verwagtinge van hulle ouers nakom nie en dit veroorsaak dat kinders begin teleurgesteld voel in hulleself. Die gevoel dat hulle nie genoeg doen nie (al probeer hulle klaar hulle beste) veroorsaak dat kinders depressief word en nooit leer dat hulle beste genoeg is nie. Maar selfs dan kan die blaam nie slegs op die ouers geplaas word nie, want kinders moet ook self werk aan hoe hulle voel en hoe hulle probleme hanteer.
Die jeug en die ouer generasies sal altyd ’n teenstrydigheid hê teenoor mekaar. Albei was anders grootgemaak en albei het in verskillende eras van die wêreld ontstaan en gegroei. Al kom hulle nie altyd oor die weg nie, kan ons almal wel saamstem dat albei uniek is en al wil hulle nie altyd uit mekaar se perspektiewe uit leer nie, bly hulle ’n deel van ons wêreld wat altyd daar sal wees. Die teenstrydigheid tussen oud en nuut sal altyd ontstaan. Dis nou met of sonder die towerstaffie.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article