Viva la Wap! ’n Kultuur Hoogtepunt op die WAP Kalender

Esmarie Boshoff
Die Wap Vivatum was oorspronklik ter voorbereiding vir die ATKV Tienertoneel wat op 28 Augustus plaasgevind het waarvoor die skool twee tonele, Die storie agter die storie van Bonnie en Clyde en Bernarda, ingeskryf het. Die nagmarkie het ook vir kos en musiek gesorg tesame met ’n kunskompetisie waar leerlinge hulle eie unieke kunswerke kon inskryf.

Die beoordelaars van die tonele, Juffrou An-Madi Gouws, ’n onderwyseres by WAP, en Marcel Theron van Kosmos Radio, het baie positiewe terugvoering gegee aan die einde van die aand. Toeskouers kon ook die aand wegstap met ’n lekker warm tuisgemaakte bobotie.
Die projek was onder leiding van die WAPAT, die ATKV-jeugtak van die skool wat jaarlikse projekte doen. Dié jaar het hulle besluit om die kultuur te ondersteun deur die toneelaand aan te bied en kon hulle op dié wyse dus geld insamel.

Me. Lize-Mari Esterhuyse het ’n fyn oog op die verloop van gebeure gehou. Sy is ook self betrokke by ’n toneel vir die Tienertoneel gewees en tydens ʼn onderhoud vertel sy dat die idee vir die projek gebore is tydens ʼn gesprekvoering met twee ander onderwysers van die skool wat ook betrokke was: “Ons wou die kultuur sien ontwikkel, so toe besluit ons op ʼn goeie toneelaand wat ook ʼn lekker kuiergeleentheid vir almal kan wees.”
Met die toneelaand word daar gehoop om kinders aan te moedig om volgende jaar meer betrokke te raak by kuns en kultuur aktiwiteite en om ook aan die Tienertoneel in die toekoms deel te neem.