Welkom, Meneer Henry!

Kyla Horn
Meneer Gerald Henry McCarthy is in 1971 in Suid-Afrika gebore en het aan Frans du Toit Hoërskool in Phalaborwa, Limpopo gematrikuleer. Hy het ‘n BA-graad (Politieke Wetenskap), ‘n BA Honneurs-graad (Politieke Studies), ‘n B.Ed Honneurs-graad in Onderwysbestuur en ‘n Onderwysdiploma (nagraads) aan die PU vir CHO, vandag bekend as die Noord-Wes Universiteit, verwerf. Sy akademiese pad is egter nog nie beëindig nie – hy werk reeds daaraan om deur die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) ‘n B.Com.-graad in Risikobestuur te voltooi. Indrukwekkend, nè! As skolier en student het hierdie top-student verskeie akademiese – en leierskaptoekennings verwerf. Hy fokus egter beslis nie net op die akademie nie; dwarsdeur sy loopbaan as skolier of student en in sy onderwysloopbaan van 20 jaar was hy iewers op ‘n sportveld bedrywig – óf as speler, óf as afrigter.

As dosent en onderwyser het meneer Henry reeds die wêreld se ondervinding opgedoen. Gedurende 2008 het hy vir drie maande aan die Windhoek Onderwyskollege in Windhoek (vandag deel van die Universiteit van Namibië) as Fasiliteerder vir dosente opgetree. Hy het die betrokkenes in Navorsingsmetodiek gefasiliteer. Ook het hy vanaf 2002 tot 2013 opgetree as Fasiliteerder by die Institute for Open Learning (IOL:Trusco). Hier was hy betrokke by deeltydse B.Ed Honneursstudente en studente wat die Gevorderde Sertifikaat in Onderwys gevolg het en hy was verantwoordelik vir die skryf van studiemateriaal en nasien van werkstukke en vraestelle van sy studente. By Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) het meneer Henry diep spore getrap. Hy was onderwyser, senior onderwyser en later Fasehoof van die Hoërskool (2010). Vanaf 2012 tot 2013 was hy Departementshoof van Sosiale Studies en in 2014 Hoof: Sosiale Studies en van ITC-Systems. Vanaf 2010 tot 2014 was hy deel van die skool se Topbestuur: Sekondêre Skool en in 2013 tot 2014 deel van die Uitvoerende Bestuurspan van WAP. Gedurende hierdie tydperk het hy by verskeie geleenthede waargeneem as Skoolhoof van die Sekondêre Skool. Vanaf 1 Januarie 2015 tot 31 Desember 2016 was hy Skoolhoof: Sekondêre Skool by The Dolphin Schools, Walvisbaai.

Laaste, maar beslis nie die minste nie - Meneer McCarthy is al sedert 2005 aktief betrokke by die Independent Examination Board (IEB) – en dit is iets wat ons almal by die hoërskool sommer báie gerus laat voel. Vir die vak Besigheidstudies is hy al vir etlike jare Senior Eksaminator. Ook tree hy op as Studieportefeulje Moderator en Moderator van Een Navorsing Taak. Boonop het hy waardevolle ondervinding opgedoen as Onderwyser Verteenwoordiger vir Namibië, die Noordwes provinsie (RSA), Noord-Kaap (RSA) en die Vrystaat (RSA) op die IEB se Assesseringskomitee. Sedert 2015 tree hy ook op lid van die Nasionale Vakforum vir Besigheidstudies wat hierdie vak se sillabus hersien. Vanaf 2015 is hy natuurlik ook Skoolhoof Verteenwoordiger by IEB. Sy kennis van en ondervinding in IEB-aangeleenthede is iets waaruit Pro-Ed nét voordeel kan trek. As ‘n leerling, onderwyser of ouer dus enige navrae oor IEB en/of die eksterne eksamen het, is meneer Henry die man met die regte en beste antwoorde!

Meneer Henry, ons is verheug dat u deel van die Pro-Edgemeenskap geword het. Ons hoop u verblyf by Pro-Ed is lank, gelukkig en geseënd!