Woeilige wiskunde week
Charlene Grobler3.141... Genade nee, wat is die res van Pi nou weer? Wel Jesse Kotze sal jou sekerlik kan sê, aangesien hy met drié honderd en agt plekke hierdie jaar se titel van Pi koning dra. Hier by Pro-Ed Akademie, word die Wiskunde- en Wetenskapweek as baie ernstig beskou en vier ons Pi dag met alles wat ons het. Van 'n pastei-eet kompetisie, waar Bennie Viljoen sy opponente in die stof gelaat het, tot raaisels wat selfs die bo-baas wiskundiges kop laat krap het.
Soos per tradisie, is daar weereens 'n rowwe uitdaging vir die toekomstige ingenieurs van Pro-Ed Akademie gestel: 'n brugbou kompetisies. Waarmee het hulle gebou? Sosatiestokkies en ‘n enkel rol kleefband natuurlik! Alhoewel die graad 11-klas se meisies en graad 10-seuns kop-aan-kop was met die gewig wat hul brûe kon hou, het die seuns die koek gevat met 15 kilogram! Ons wonderlike wetenskaplikes het ook hul beste voetjie voor gesit en vir ons behoorlik gewys hoe om die mooiste kristalle te groei. Soutkristalle, suikerkristalle, ystersulfaatkristalle... noem die medium en ons het 'n kristal! Dié jaar het Henroux Swart die prys gevat vir beste kristalvorm, waar ons oë laat rek het met sy reusagtige kristal! Op die einde van die dag, het almal asem opgehou vir die aandkondiging van die wenklas. Die wenner is bepaal deur die hoeveelheid punte wat 'n klas ingesamel het deur hul deelname of deur die kompetisies wat deur individue gewen is. Elke blokraaisel en breinboelie wat ingehandig is, wen vir jou span 'n paar punte. Hierdie jaar se wenners was... die graad elf klas! Hulle verdien beslís die prys! Dan het ons ook natuurlik die span wat die hoogste punte behaal het. Die graad 10's se span, Pythagoras, het die kroon gevat! Ons Wiskunde- en Wetenskap week is werklik iets om te beleef. Dit is 'n wonderlike geleentheid om bietjie gees te bou in die skool. Nuwe vriende word gemaak wanneer die klasse holderstebolde gemeng word en jou spanmaats dalk nie jou gewone groep vriende is nie. Natuurlik is dit nie nét speletjies nie... ons Pro-Ed-leerlinge was bevoorreg genoeg om bietjie meer te leer oor hoe olifante kommunikeer deur middel van infraklank toe 'n verteenwoordiger van EHRA met ons kom gesels het. Juffrou Mimi het ook vir ons 'n fantastiese saal opening voorberei, wat ons almal weer kon herinner aan Wie ons al die wonderbaarlike gebeurtenisse te danke het, ons God, want wat is Pro-Ed Akademie as ons Hom nie eer nie. Sonder die insette van ons wiskunde en wetenskap onderwysers sal diè week nie moontlik wees nie. Baie dankie aan juffrou Mimi Linde, juffrou Renè Conradie en juffrou Rina Strampe.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article