Branderryers wys hoe dit gedoen word

Watersport
Adam Hartman

Branderryers het laas Saterdag op Swakopmund hul slag gewys in die Sound Garden Surf Contest.

Die kompetisie by “Thick Lip”, die bekende kol vir branderry naby die Geel Bus-koslorrie, is aan die gang gesit met uitdunrondtes van 20 minute elk, waarin deelnemers kans gehad het om hul branders te kies en die beoordelaars te beïndruk.

Branderryers in verskeie ouderdomsgroepe het die oggend meegeding, voor die latere drie eindrondtes wat elk vir 40 minute geduur het.

Die juniors se eindrondte (18 en jonger) is deur Alex Aring beklink, met Matthew Steward tweede en Yaron Lucas en derde.

In die meestersfinaal, vir deelnemers van 41 en ouer, was Dirk Redman eerste ná ‘n deurlopend goeie uitdun. Tyrone Kotze was tweede en Rod Braby derde.

Die Ope finaal – met deelnemers van al die ouderdomsgroepe – is aan die wenner Damien Lackey toegeken, met Phillip Seidler tweede en Dirk Redman derde met nóg ‘n podiumposisie.

Organiseerders sê die byeenkoms het die plaaslike branderry-kultuur op die voorgrond geplaas, asook die rol van die sport om die gemeenskap byeen te bring.