Agra wil N$16,3 m. se dividende uitbetaal

Trots op prestasie, sê hoof
Agra se wins ná belasting het die afgelope boekjaar met 22,8% toegeneem.
Elvira Hattingh
Agra sal vanjaar na verwagting meer as N$16,3 miljoen se dividende uitbetaal.

Dit kom nadat die maatskappy se raad van direkteure ’n dividend van 16c per gewone aandeel tydens die afgelope jaarvergadering voorgestel het. Dit danksy die maatskappy se goeie prestasie oor die afgelope jaar en boonop ’n verbetering op die 13,5c per aandeel wat verlede jaar uitbetaal is.

Agra se wins ná belasting het die afgelope boekjaar met 22,8% toegeneem. Dit verteenwoordig ’n wins van N$92,1 miljoen vergeleke met N$75 miljoen in die 2021-’22-boekjaar. Die maatskappy het vanjaar ’n totale inkomste van N$94,1 miljoen gegenereer teenoor verlede jaar se N$77,2 miljoen.

Agra se jaarvergadering het op Vrydag 24 November by die Agra/Bank Windhoek Ring plaasgevind en is deur aandeelhouers, Agra se raad van direkteure en -bestuur bygewoon.

Agra se uitvoerende hoof, Arnold Klein, het gesê hy is trots op die maatskappy se finansiële prestasie. Agra spog met ’n toename van 23,1% in omset vanaf N$1 997 miljoen in die 2021-’22-boekjaar tot N$2 459 miljoen in die 2022-’23-boekjaar.

Daarbenewens het die maatskappy ’n geringe toename van 3% in bedryfskoste gesien – heelwat minder as die Namibiese inflasiekoers van 4,5%.

Die voorsitter van die raad van direkteure, Ryno van der Merwe, het gesê die afgelope boekjaar word gekenmerk deur nog ’n besonderse finansiële sukses vir Agra.

Hy het erken dat uitdagings ervaar word in terme van produksie, die ekonomie asook die omgewing. Hy het die 30%-afname in die prys van speenkalwers en kleinvee uitgesonder, terwyl insetkoste, rentekoerse en beduidende tekorte in voorraad by verskaffers erge druk op mense se kontantvloei en besteebare inkomste plaas.

Van der Merwe het benadruk dat Namibiese landbouprodusente behendige kenners sal moet word om verskeie risiko’s en uitdagings te bestuur en het hulle geprys vir hul sukses in die moeilike tye.

Hy het bygevoeg dat Agra toegewyd is daartoe om op sy kernsake en -strategieë te fokus, want dit lewer die grootste bydrae tot die maatskappy se besonderse prestasie.

Alle spesiale en gewone resolusies is by die jaarvergadering aanvaar, terwyl die twee direkteure Anette Steyn en Zureuka Majiedt ook tot die raad herverkies is.

“Ons glo Namibië se toekoms lê in die landbousektor en ons wy onsself daartoe toe om standhoudende bydraes tot die land se ekonomiese vooruitgang te maak. Agra kyk met selfvertroue na die toekoms en is daarop voorbereid om struikelblokke die hoof te bied en geleenthede te benut binne ’n dinamiese sake-landskap, luidens die mediaverklaring wat verlede week uitgereik is.

– republikein@republikein.com.na