Akkerbouers verken sonneblomproduksie

APV-inligtingsdag fokus op alternatiewe gewas
Die Akkerbou Produsente-vereniging (APV) hou op 4 en 5 April 'n inligtingsdag saam met hul jaarlikse ledevergadering in die Grootfontein-omgewing, met die fokus op sonneblom as 'n gewas vir wisselbou.
Elvira Hattingh
Vanjaar se láát reën het talle akkerbouers in die Mieliedriehoek gedwing om eerder sonneblomme as mielies te plant, ongeag daarvan dat die mark vir sonneblomme nog tot ’n mate ontwikkel moet word.

Só het Klaas Malan, ’n bekende in plaaslike akkerboukringe en voorloper van herlewingslandbou in die land, onlangs aan plaaslike media gesê.

“As dit vanjaar vroeër kom reën het, sou ons almal dalk eerder mielies as sonneblom geplant het, want die mark vir mielies is reeds goed gevestig. Ons is egter deur die laat reën gedwing om die ‘regte’ ding te doen,” het Malan gesê.

Dienooreenkomstig bied die Akkerbou Produsente-vereniging (APV) vanjaar ’n inligtingsdag aan saam met sy jaarlikse ledevergadering. Dit word op 4 en 5 April op Malan se plaas Venus in die Grootfontein-omgewing aangebied.

“Die fokus val op wisselbou, terwyl ons deur die inligtingsdag hoop om sommer meer mense by die ledevergadering te kry,” het hy gesê.

Malan sê daar sal spesifiek op sonneblom as ’n wisselgewas gefokus word en of dit in Namibië kan werk.

“Ons weet in die verlede is baie sonneblomme met groot sukses in die land geproduseer, maar dit het gedaal toe die verwerkingsaanleg in die land weggeval het. Tans is daar nie werklik ’n mark hiervoor nie.



NAVORSING

“Die Namibië Landbou-unie (NLU) is egter besig om navorsing te doen om weer ’n mark vir sonneblomme te skep, met ’n alternatief wat bestaan om dit na Suid-Afrika uit te voer.

Malan sê een uitdaging is egter vervoer, maar daar is reeds met Namib Mills onderhandel om, as hulle lorries mielies inry Namibië toe, moontlik vragte sonneblom na Suid-Afrika te neem. Die vragmotors, wat slegs graan kan vervoer, kan ’n goedkoop alternatief vir plaaslike boere wees omdat dit andersins leeg na die buurland gaan.

“Die eerste prys is egter as ons ons eie verwerkingsaanleg in die land op die been kan bring. Daar is reeds mense wat sonneblomolie invoer en in Namibië bottel.

“Dit is ’n geleentheid, mits ons die sonneblomsaad suksesvol kan pers. Die bemarkingsgeleenthede is reeds daar,” het hy gesê.

Sommige lede van die APV toer ook vandeesweek in Suid-Afrika om ondersoek in te stel hoe die bedryf werk en die eienaar van ’n plaaslike onderneming wat reeds olie bottel, sal saamgaan.

Dit is die tweede keer wat so ’n dag oor herlewingslandbou op die plaas Venus aangebied word – verlede jaar is dit ook gehou. Malan sê die beginsel van herlewingslandbou staan op ’n klompie bene, waarvan minimum grondversteuring en wisselbou twee is.



PROEWE MET SONNEBLOM

Malan het self reeds verskeie gewasse in sy wisselboustelsel beproef – dit sluit in dat hy in die verlede reeds sonneblomme geplant het. Vanjaar was dit egter die eerste keer wat hy dit geplant het om dit kommersieël te oes en te bemark.

Hy sê hy het vanjaar sowat 60 ha geplant. Hy sê die eerste 30 ha is besonders mooi, terwyl die ander 30 ha minder reën gehad het en eers ná die groot reën geplant is.

Malan sê die voordeel van sonneblomme is dat dit later in die seisoen as mielies geplant kan word. Hy vertel hy het vanjaar sy eerste noemenswaardige reën eers op 16 Januarie gekry, wanneer die seisoen vir mielies amper verby is.

“Ekself verkies om nie ná 15 Januarie te plant nie, alhoewel baie akkerbouers nog tot die veertigste Januarie plant,” lag hy.

“Sonneblomme het ’n korter groeiseisoen nodig en sy behoefte aan vog is minder as die van mielies. Hy is ook beter bestand teen koue as mielies – as hy eers groter is, ryp hy nie sommer nie. Boonop kan jy gras-onkruid wat rondom sonneblomme opkom, beter beheer. Dit is omdat hy ’n breëblaar-gewas is.”



PROGRAM

Die oggend van die eerste dag word verskeie praatjies aangebied, terwyl daar ook gekyk sal word na beeste wat op dekgewasse loop. Die sonneblomlande sal ook besoek word, met kenners uit Suid-Afrika wat die groep sal vergesel en van raad sal voorsien.

Vanaf 14:00 sal André Nel, wat voorheen betrokke was by Suid-Afrika se Landbou-navorsingsraad (LNR) en ’n kenner is van herlewingslandbou, wisselbou en spesifiek van sonneblomme, besoekers toespreek.

Frik van Sittert, ’n groot herlewingslandbou-boer uit Suid-Afrika wat sy produksie met sonneblomme en mielies afwissel, sal ook praktiese wenke gee oor hoe om sonneblomme te produseer.

Die vyfde hou die APV sy ledevergadering, waar Nel weer ’n praatjie oor sonneblomproduksie en die vereistes daarvan sal gee.

– elvira@republikein.com.na