Geen of min groei in plaaslike landbou

Ontleders maak voorstelle oor uitdagings
Namibië se landbousektor se swak prestasie word in teenstelling met die van buurlande geplaas, waar produktiwiteit reeds suksesvol is en beduidend verbeter het.
Elvira Hattingh
Terwyl Namibiese boerderye sedert die 1990’s heelwat meer landbougrond beslaan, is daar min vordering gemaak om opbrengste enigsins beduidend te verbeter.

Inteendeel, Namibië se landbousektor groei nie, of groei op maniere wat reeds bewys is om onvolhoubaar te wees.

Dit volgens ’n ontleding deur die navorsers Andrés Fortunato en Sheyla Enciso van die Growth Lab by die Harvard Universiteit, wat in Oktober gepubliseer is getiteld “Food for Growth: A Diagnostics of Namibia’s Agriculture Sector”.

Namibië se landbousektor se swak prestasie word in teenstelling met die van buurlande geplaas, waar produktiwiteit reeds suksesvol is en beduidend verbeter het.

Die navorsers het die ekonomiese beperkinge ontleed wat vir die swak prestasie van Namibië se landbousektor verantwoordelik is.



GROEI?

Volgens die ontleding het sommige plaaslike landboubedrywe “groei” gesien waar dit meer grond en water in beslag geneem het – dog word dit steeds erg belemmer deur lae vlakke van produktiwiteit.

“Dit is die geval vir graangewasse asook groente en vrugte. Dit geld selfs vir druiwe, wat sowat 80% van die land se landbou-uitvoere opmaak (as die vis-, lewendehawe- en vleisbedryf uitgesluit word).

“Die vleisbedryf ervaar dieselfde tendens, waar speenkalwers lewend uitgevoer word en waardetoevoeging nie plaaslik kan plaasvind nie,” lui die ontleding.

Die oorhoofse tendens is om landbougrond uit te brei, ten spyte van lae produktiwiteit. Dit dui daarop dat die sektor nog nie die nodige vaardighede verkry het om oor te skakel na hoe landbou in die res van die wêreld gedoen word nie.

“Die sektor ervaar ook bindende koördineringsprobleme as dit kom by diversifikasie, innovering en die ontwikkeling van landbou en vaardighede op sekere plekke,” lui die verslag.



VOORSTELLE

Volgens die ontleders is die sektor se grootste beslommernis openbare voorsiening van insette asook koördineringsprobleme binne die sektor.

Boere vind glo wel maniere om uitdagings te oorkom en dienooreenkomstig het die sektor nuwe bedrywe soos dié van dadels en bloubessies sien ontwikkel, maar meer ondersteuning is nodig.

“Produksie word ook belemmer deur ’n tekort aan plaaslik geproduseerde en bekostigbare veevoer, terwyl onsekerhede oor grondbesit vennootskappe tussen die private sektor en plaaslike gemeenskappe bemoeilik,” lui die verslag.

Die ontleders sê bestaande infrastruktuur kan beter benut word deur byvoorbeeld van besproeiing gebruik te maak om veevoer te produseer. Tog moet die land eers kwessies met toegang tot water en elektrisiteit in landelike gebiede die hoof bied.

Die water, elektrisiteit en infrastruktuur by groenskemas is onderbenut – iets wat eers uitgeklaar behoort te word voor nuwe projekte soos die uitbreiding van elektrisiteit of nuwe damme beplan word, sê die navorsers.

Volgens hulle is die uitverhuring van groenskemas ’n noodsaaklike tree om die private sektor in kommunale gebiede betrokke te kry, wat ook moet help met die oordrag van broodnodige vaardighede.

Daarbenewens is die verbetering van toegang tot water in landelike gebiede met behulp van openbare infrastruktuur noodsaaklik vir die bevordering van besproeiing buite die groenskemas.

Die ontleders sê Namibië ervaar steeds ’n ernstige gebrek aan voedselsekuriteit, wat vererger word deur gereelde droogtes.



AANSPORING

“Deur aansporings vir kleinboere te ontwikkel, kan help dat hulle probleme met winsgewendheid uit die weggeruim word en hulle meer markte bereik.

Daar word voorgestel dat bystand verleen word in die vorm van subsidies of belastingvakansies.

“Die landbousektor het ’n behoefte aan gewasdiversifisering en die aanleer van vaardighede. Die eerste stap in dié rigting is om regulasies te skep om plantvariëteite te beskerm.

Die ontleders sê die wet op saad en saadvariëteite (nr. 23 van 2018) is reeds deur die parlement ingestel, maar is nog nie van krag nie. Dit kan help om variëteite te ontwikkel wat gepas is vir plaaslike toestande. Die ontwikkelaars van saad kan hierop kapitaliseer omdat hulle eienaarsregte op saad sal kan registreer.

Ten slotte sê ontleders dat landbou-uitbreidingsdienste versterk moet word omdat dit die aanneming van moderne boerderytegnieke kan verbeter. Volgens die landbousensus was slegs 10% van kommunale boere en 29% van kommersiële boere in kontak met dié landboudiens in 2013 tot 2014.

– elvira@republikein.com.na