Kelpplaas gereed vir omgewingsklaring

Loodsprojek duur voort
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



’n Maatskappy in private besit, Kelp Blue Namibia, wil reusekelp op ’n kommersiële vlak naby Lüderitz kweek.



’n Loodsprojek is reeds in Augustus 2021 van stapel gestuur om inligting te verskaf oor die lewensvatbaarheid van so ’n projek, asook om die mariene ekologiese aspekte hiervan te monitor.



Kelp Blue wil graag 400 hektaar in Shearwaterbaai asook 6 000 langs die kus by Boatbaai ontwikkel.



Daar word tans ook aansoek om omgewingsklaring gedoen en belanghebbendes moet dienooreenkomstig registreer as partye wat geraak sal word of belang in die projek het.



Partye kan registreer deur hul kontakbesonderhede aan Werner Petrick by Namisun te stuur (wpetrick@namisun.com), of hom direk te kontak by 081 739 4591.



Twee openbare vergaderings sal môre om 8:30 en dan weer om 11:00 op ­Lüderitz by die Benguela-gemeenskap­saal gehou word.



LOODSPROJEKIntussen word daar tydens die loodsprojek kelp geoes en gesaai, terwyl ander aktiwiteite soos die monitering van die omgewing asook ’n afset van die produk ondersoek word. ’n Laboratorium en kwekery is reeds gevestig en die opstel van strukture wat tydens die aanvanklike studie benut sal word, is steeds onderweg.



’n Strategie om die omgewing te monitor word ook in werking gestel terwyl verwerkingsgeriewe en ­–aktiwiteite na verwagting in Junie vanjaar sal afskop.



“Kelp Blue beplan om ’n biostimulant te produseer en veldtoetse op verskillende gewasse en groentes in Namibië te doen,” lui ’n verslag wat onlangs aan die publiek uitgereik is.



Die maatskappy wil ook mettertyd sy plaas op Lüderitz vergroot. Daar word ook beplan om die reusekelp met ’n vaartuig te oes wat die kapasiteit sal hê om tot 120 000 ton per jaar te oes.



Kelp Blue sê dit is ook aktief betrokke binne die gemeenskap, terwyl dit ver­skeie kere met belangegroepe geskakel het. Dit het ook ’n niewinsgewende onderneming op die been gebring om onderrig oor die see te bevorder, kapasiteit te ontwikkel en onafhank­like navorsing te kan doen.



Die onderneming, genaamd The Kelp Forest Foundation, borg Namibiese studente wat vir meesters- en doktorsgrade leer – en het tot dusver tien studente uit verskillende velde geborg. Verder het dit ook ’n gety-swembad by ’n skool op Lüderitz geborg.