Speenkalwers mag na SA uitgevoer word

Francoise Steynberg
Die direktoraat van veeartsenydienste in die ministerie van landbou, water en grondhervorming verseker boere dit is onwaar dat speenkalwers nie meer na Suid-Afrika uitgevoer mag word nie.

Dis net gerugte, volgens die waarnemende hoofveeartsenybeampte, dr. John Shoopala.

“Enigiemand wat beeste op die hoef na Suid-Afrika wil uitvoer, moet aansoek doen vir die Suid-Afrikaanse veeartsenykundige invoerpermit,” sê hy in 'n mediaverklaring.

Midde die droogte bly die invoer van ruvoer egter steeds ’n tameletjie. Talle Namibiese veeboere bevind hulle in ’n ernstige droogtekrisis wat die dringende invoer van ruvoer uit Suid-Afrika noodsaak, maar streng regulasies kniehalter dié proses.

“Alle in- en uitvoer van vee en veeprodukte word gefasiliteer deur die bepalings uiteengesit in die Wet op Dieregesondheid (Wet 1 van 2011) en daarom maak Namibië voorsiening vir die invoer van volledig verwerkte veevoer in ooreenstemming met ons veeartsenykundige invoervereistes,” het Shoopala benadruk.

Hy het bevestig Namibië is egter tans besig met onderhandelinge met Suid-Afrika oor die hersiene veeartsenykundige invoervereistes vir onverwerkte veevoer, soos onder meer hooi, lusern en gras waarvan die invoer gebaseer sal wees op vereistes soos deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) voorgeskryf word.

Van die regulasies behels dat bale gestoom of gerook moet word en vier maande in kwarantyn gehou word. Vragmotors moet met ontsmettingsmiddels wat deur veeartse goedgekeur is, skoongemaak word wat doeltreffend is om die bek-en-klouseervirus te deaktiveer. Voertuie moet so verseël word dat geen ongemagtigde materiaal ná verseëling by die besending gevoeg kan word nie en seëls moet slegs deur veeartsenybeamptes gebreek word met aankoms in Namibië.

Belanghebbendes in die veevoerbedryf in Suid-Afrika het bevestig dat die streng regulasies steeds die uitvoer van ruvoer belemmer.

“Dit is vir ons belangrik om Namibiese boere in nood te help en ons het kliënte in Namibië wat baie graag van ons voer wil hê.

“Baie streng invoerreëls en -regulasies maak dit vir ons byna onmoontlik om dit reg te kry,” het Hugh Harold Jacobs van Harold Feed and Grain uit Christiana in die Noordwes-provinsie aan Agri Monitor gesê.

“Ons kon nog geen voer na Namibië uitvoer toe nie. So, tot nou toe is daar nog geen verdere sprake van uitvoere nie,” het hy die naweek bevestig.

– francoise@nmh.com.na