Streng regulasies vir ruvoer-invoer knel boere

Duisende tonne voer staan gereed
Die Lewendehaweprodusente-organisasie werk steeds onverpoosd saam met die direktoraat veeartsenydienste om lewensvatbare oplossings te ondersoek.
Francoise Steynberg
Sommige Namibiese veeboere bevind hulle midde ’n ernstige droogtekrisis wat die dringende invoer van ruvoer uit Suid-Afrika noodsaak, maar streng regulasies kniehalter dié proses.

Die invoerproses is onderhewig aan streng regulasies wat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) vir lande met erkende siektevrye sones ingestel het.

Hierdie sones stel Namibië in staat om handel te dryf in vee en vleis. Die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die landbouministerie dien as die aangewese owerheid deur die WOAH om die volle nakoming van die regulasies te verseker, wat Namibië se siektevrye status beskerm.

Die nakoming van die regulasies is uiters belangrik en pogings is aan die gang om die praktiese uitdagings te takel wat verband hou met sekere reëls, wat die Namibiese owerhede verseker dat enige potensiële risiko’s uitgeskakel word.

Van die regulasies behels dat bale gestoom of gerook moet word, dit moet vir vier maande in kwarantyn gehou word en vragmotors moet met ontsmettingsmiddels wat deur veeartse goedgekeur is, skoongemaak word.

Volgens bronne was die eerste oorweging om ruvoer onder ’n Rooi Kruis-permit na die grens te bring en dit met ’n formaliengasoplossing onder toesig van die DVS te behandel, soos deur die WOAH voorgeskryf word. Met aansienlike navorsing is daar egter gevind dat hierdie grensbehandeling in die praktyk moeilik sou wees.

Daarna is ook ondersoek ingestel na ruvoer wat reeds vir langer as vier maande in pakhuise in kwarantyn gebaal staan met heelwat instansies wat aan hierdie vereiste voldoen, maar daar is ook duwweltjies in die pad vorentoe.

Die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) werk steeds onverpoosd saam met die DVS om lewensvatbare oplossings te ondersoek.

“Daar is begrip vir die dringendheid van die situasie en die LPO ondersoek aktief verskeie maniere om die proses te bespoedig. Dank word uitgespreek aan alle belanghebbendes in Suid-Afrika en Namibië vir hul toegewyde pogings en onskatbare tyd wat belê word om oplossings vir hierdie dringende kwessie te vind.”

Die DVS is tans in bilaterale gesprekke met hul Suid-Afrikaanse veeartsenykundige eweknie (DALLRD) oor die kwessie.

Intussen het belanghebbendes in die veevoerbedryf in Suid-Afrika laat weet dat die streng regulasies hul uitvoer belemmer.

“Ons is uitvoerders van verskeie veevoere in Suid-Afrika. Ons het tans kliënte in Namibië wat baie graag van ons voer wil hê. Baie streng invoerreëls en -regulasies maak dit vir ons byna onmoontlik om dit reg te kry,” het Hugh Jacobs van Harold Feed and Grain uit Christiana in die Noordwes-provinsie aan Agri Monitor gesê.

Hulle beskik oor 4 000 ton voer, wat onder meer lusern, mieliereste, koring- en boontjiestrooi en hooi insluit.

“Dit is vir ons belangrik om die boere in nood te help. Daar is reeds spesiale pryse vir al die Namibiese boere wat in nood verkeer.”

Jacobs sê hulle is tans in ’n doodloopstraat om Namibiese boere te help en hoop die Namibië Landbou-unie (NLU) en LPO kan deur onderhandelinge met Suid-Afrika die knoop deurhaak vir uitvoere.

– francoise@nmh.com.na