Veebemarking styg skerp in Februarie

Beesvleisuitvoere groei met 78,6%
Onsekerheid onder boere oor die droogte het gelei tot hoë veebemarkingsgetalle in Februarie.
Francoise Steynberg
Die gebrek aan voldoende reënval in sommige dele van die land het kommer onder boere veroorsaak, en hul onsekerheid oor die droogte het gelei tot hoë veebemarkingsgetalle in Februarie.

Volgens die Lewendehawe- en Lewendehawe-produkteraad het die sektor ’n aansienlike toename oor alle bemarkingskanale aangeteken.

“Hierdie groei het deurgesyfer na die vleissektor, wat tydens Februarie ’n toename in produksie gesien het tesame met relatief lae produsentepryse.”

Volgens die raad het jaar-tot-datum beesbemarking met 49% toegeneem met 27 983 beeste wat gedurende Februarie bemark is. Altesaam 21 608 beeste is op die hoef uitgevoer as gevolg van relatief beter speenkalfpryse in Suid-Afrika.

Jaar-op-jaar het speenkalf- en tollie-produsentepryse gedaal en was in Februarie gemiddeld N$25,25/kg en N$20/kg onderskeidelik.

“Die gemiddelde prys van alle grade beesvleis het relatief stabiel gebly vergeleke met sy Suid-Afrikaanse eweknie, maar dit het egter op ’n jaargrondslag met N$3,51/kg vanaf Februarie 2023 se vlak gedaal en was gemiddeld N$58,43/kg in Februarie vanjaar.”

Jaar-tot-datum beesvleisinvoere het met 74,6% gedaal. Aan die ander kant het beesvleisuitvoere met 78,6% gegroei as gevolg van goeie slagtings by abattoirs wat vir uitvoer goedgekeur is. Meer as die helfte van beesvleisuitvoere wat in Februarie aangeteken is, het na die Europese Unie (EU) gegaan terwyl die res na die Verenigde Koninkryk (VK), Noorweë, Suid-Afrika en Angola uitgevoer is.

“Wat merkwaardig is, is dat ’n beesvleisbesending vir die eerste keer sedert Julie 2020 na Amerika uitgevoer is.”



SKAAPSEKTOR

Bemarking van skape het jaar-tot-datum met 50,6% gestyg.

Die toename in skaapgetalle het meegebring dat slagting en lewende uitvoere met onderskeidelik 5,8% en 44,1% gestyg het.

Die aanbod van skape aan die Noord-Kaap het hoog gebly en het gedurende Februarie met 46% toegeneem as gevolg van relatief hoër produsentepryse wat deur Suid-Afrikaanse abattoirs aangebied word.

Jaar-tot-datum uitvoere van lam- en skaapvleis het met 118,3% gegroei as gevolg van goeie

slagting. Aan die ander kant het die gemiddelde skaapkarkas (alle grade) tot N$52,58/kg gedaal vanaf N$56,79/kg wat in Februarie 2023 aangeteken is.

Tydens ’n besoek van Agri Monitor aan Farmers Meat op Mariental, het die bedryfsbestuurder, Trevor du Toit, beklemtoon dat die abattoir sy slagpryse van skape so na as moontlik aan die Suid-Afrikaanse markprys hou.

“Ons produsente moet beter beskerm word. Ons kyk na die produsent, want ons weet die boere vat pyn met die droogte. Ons het goeie en slegte jare en wil mekaar help,” het Du Toit gesê.



BOKKE EN VARKE

’n Toename van 12,3% is aangeteken in die aantal bokke wat bemark is. Jaar-tot-datum het dit met 15,2% gestyg weens die goeie aanvraag na bokke in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika.

“Jaar-op-jaar het die boklamprys op veilings gedaal en was gemiddeld N$29,39/kg in Februarie 2024. Die boklamveilingprys het egter maandeliks verbeter vanaf Januarie 2024 se vlak van N$29,28/kg,

wat ’n herstel in vraag aandui.”

Wat die varkvleissektor betref, het die jaar-tot-datum totale bemarking met 9,1% gestyg, met ’n totaal van 8 153 varke wat geslag is. Aan die ander kant het die invoer van varkvleis met 51,1% op ’n jaargrondslag verswak.

Volgens die Lewendehaweraad was die plaaslike vraag na varkvleisprodukte oor die algemeen laag weens swak ekonomiese verbruikerspryse. – francoise@nmh.com.na