Afrigterspan uit terwyl NRU besin oor pad vorentoe
Die voorspelbare finansiële reperkussies van Namibië se onsuksesvolle veldtog om vir die 2027 Wêreldbeker-rugbytoernooi in Australië te kwalifiseer, het reeds ‘n werklikheid begin word met die afrigterspan van die senior nasionale manspan wat sedertdien gedisintegreer het.
Jacques Burger het aan Network Sport Hub (NSH) bevestig dat hy sedert die einde van Desember nie meer as direkteur van rugby van die Namibië Rugby-unie in diens is nie.
Ander lede van die afrigterspan en hoëprestasiepersoneel van 2025 se kontrakte is ook op dieselfde datum skriftelik opgeskort, insluitend Pieter Rossouw (‘n korttermyn-aanstelling as hoofafrigter) en sy hulpafrigters.
In afsonderlike briewe aan Burger en sy mede-afrigters het die NRU se uitvoerende hoof, John Heynes, sy waardering uitgespreek vir hul leierskap, toewyding en vlak van professionalisme oor die voorafgaande maande in die uitvoering van die NRU se hoëprestasieprogram.
“Soos u bewus is, het ons onsuksesvolle veldtog om vir die 2027 Wêreldbeker te kwalifiseer, betekenisvolle finansiële implikasies gehad.
“Die verlies van finansiering van Wêreldrugby wat aan kwalifisering gekoppel was, tesame met verminderde toekennings vir hoëprestasie-projekte, plaas groot druk op hierdie programme en het ‘n herstrukturering van alle HP-kontrakte en -aktiwiteite genoodsaak.
“Ondanks hierdie terugslag bly die NRU daartoe verbind om te herbou en om ons HP-stelsels voor die volgende vierjaarsiklus vir kwalifisering te versterk.
“Ons heg waarde aan die kundigheid en invloed wat u tot die program bygevoeg het en is hoopvol dat u die NRU se langtermyn planne sal ondersteun, met die potensiaal om weer by te dra terwyl ons voorberei op die pad na kwalifisering (in 2029, vir die 2031 Wêreldbeker in die VSA).
“Indien geleenthede in die toekoms opduik in ‘n geherstruktureerde raamwerk van HP- en rugby-ontwikkeling, sal ons dit verwelkom om met U in verbinding te tree.”
‘Ek bly verbind’
Burger het gister in reaksie gesê: “Hoewel ek nie meer aan die NRU verbonde is nie, bly ek totaal verbind tot vooruitgang in Namibiese rugby.
“Ek het betrokke geraak met die doel om ‘n positiewe verskil te maak; nie met geld as die aansporing nie.
“Maar ek dink nie almal daai selfde visie nie. Ongelukkig wil borge nie met Namibiese rugby assosieer nie weens ‘n gebrek aan vertroue in die visie van Namibiese rugby.
“Ons groot strewe was om die trots in die Namibiese rugbytrui weer te laat floreer en ‘n sterk spankultuur te vestig. Maar met die finansies wat ‘n probleem was, het ons net te min tyd met ons spelersgroep beskikbaar gehad.
“Ons besef dis moeilike jare wat nou voorlê en ek hoop en bid die regte bestuur kan Namibiese rugby vorentoe lei. As ons dieselfde planne as tevore volg, moet ons dieselfde resultate verwag. Maar ek glo dis ‘n situasie wat homself sal uitsorteer.
“Van my kant sal ek aanhou doen wat ek kan om geleenthede vir jong spelers en hul ontwikkeling te bevorder.”
Burger is vroeg in November 2024 as direkteur van rugby aangestel om by sy voorganger Allister Coetzee oor te neem. Ondanks die NRU se destydse fokus om vertroue in 'n ten volle Namibiese afrigtersgroep te stel, het Zimbabwe in die wedloop na WB-kwalifisering die knoop deurgehaak.
NRU werk met Wêreldrugby
Die NRU se uitvoerende hoof, John Heynes, sê ‘n nuuskonferensie sal volgende week gehou word om die pad vorentoe te bespreek.
Heynes het uitgewys dat alle aanstellings en kontrakte vir nasionale afrigtersposte deeglik met Wêreldrugby gekonsulteer word, en dat die huidige tydperk se proses vir evaluering in oorleg met Wêreldrugby juis aan die gang is. “Wêreldrugby erken die stabiliteit in ons unie en gaan voort om die pad met ons te stap.”
Heynes sê die nasionale o.20-groep is wel aktief aan die voorberei om vanjaar hul titel as die heersende houers van die Rugby Afrika Barthés-trofee te verdedig. Sergio de la Harpe gaan voort om die NRU-spanne se krag en kondisionering te hanteer.
• Namibië het in Julie 2025 sy jarelange posisie as Rugby Afrika se Wêreldbeker-kwalifiseerder (onafgebroke vanaf 1999 tot 2023) afgestaan toe die Zimbabwe Sables hul groeiproses onder afrigter Piet Benade in ‘n deurslaggewende oorwinning met 30-28 afgerond het.
Die Namibiërs het hierna nog ‘n laaste kans by die wêreldwye repechage-toernooi in November in Dubai gehad, maar nederlae teen België (15-22) en die uiteindelike kwalifiseerder Samoa (8-26) was die einde van hul pad.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article