Paarwater kom NRU glo adviseer
Die Namibië Rugbyunie (NRU) kan luidens berigte binnekort die kennis van die Suid-Afrikaanse rugbyafrigter Jerome Paarwater as konsultant betrek om met sy plaaslike strukture te help.
Dié voormalige Curriebeker-hoofafrigter van die Westelike Provinsie is in diens van die Stormers.
Rapport het berig dat gesprekke tussen die Stormers en die NRU om hom beskikbaar te stel, reeds in ’n gevorderde stadium is.
Al wou nie Paarwater óf die NRU iets hieroor verklap nie, kan ’n aankondiging oor die ooreenkoms binne die volgende weke gedoen word, volgens Rapport.
Paarwater, wat sedert 2012 bykans onafgebroke Kenia se hoofafrigter is, sal nie heeltyds aangestel word nie en steeds in diens van die Kapenaars bly.
Hy word nie Namibië se nuwe hoofafrigter nie, maar sal help om bestekopname te doen nadat die land nie vir 2027 se Wêreldbeker-toernooi kon kwalifiseer nie.
Paarwater sal byvoorbeeld na die Welwitschias se klubstrukture kyk, hulp aan plaaslike afrigters verleen en die NRU raadgee. Die beheerliggaam sal later weer ’n hoofafrigter aanstel.
As ‘n uitgetrede WP-losvoorspeler in die 1980’s is Paarwater al jare by Kaapse rugby betrokke en was in 2022 die WP se Curriebeker-afrigter. Hy was voorheen voorspelerafrigter van die Stormers en WP, terwyl hy ook as breier by Viadana in Italië en die Boland betrokke was.
Sy betrokkenheid by die NRU volg nadat die oudkaptein van Namibië, Jacques Burger, en sy afrigtingspan in Desember klaargemaak het. Burger is in 2024 as direkteur van rugby aangestel in die plek van Allister Coetzee, voormalige Springbok-afrigter. Coetzee was Namibië se hoofafrigter by 2023 se Wêreldbeker en is deesdae aan die stuur by die Oostelike Provinsie.
Omdat Namibië nie verlede jaar vir die Wêreldbeker kon kwalifiseer nie, kry die Biltongboere nou ook minder finansiële steun van Wêreldrugby. Die NRU kan dus nie meer so maklik aanstellings doen nie en dis een van die vername redes waarom Burger-hulle nie meer in diens is nie.
Burger se hulpafrigters was Rohan Kitshoff, Jaco Engels en David Philander, met die oud-Bok Pieter Rossouw, Paarl Gimnasium se hoofafrigter, wat die span einde verlede jaar as hoofafrigter bygestaan het.
Die Namibiërs het in Julie 2025 naelskraap met 28-30 teen Zimbabwe in die Afrikabeker-eindstryd vasgeval en kon sodoende nie regstreeks tot die Wêreldbeker deurdring nie.
Hierna kon hulle ook nie daarin slaag om by ’n laaste Wêreldbeker-kwalifiseringstoernooi in Dubai vir die skouspel in Australië te kwalifiseer nie. Namibië het in die vorige sewe Wêreldbekers vanaf 1999 tot 2023 gespeel.
– Aangepas van Rapport/Netwerk24



Comments
My Zone
No comments have been left on this article