3Passes vir diegene wat hulself wil toets

Fietsry
Die jaarlikse 3Passes bergfietstoer is die afgelope naweek suidwes van Windhoek aangebied – die 13de opeenvolgende weergawe sedert die eerste een in 2013.

Ryers – jonk en oud, ervare en onervare – het die geleentheid aangegryp om nuwe uitdagings aan te pak. Nie net was die naweek in geheel opsy gesit vir fietsry nie, maar ook om die gewoel en gejaag van die stadslewe te ontglip, “spoed te verminder” en weer perspektief te kry.

Omrede dit nie ’n resies is nie, is deelnemers nie tydgedwonge nie en kan hulle op hul eie tyd die ondervinding geniet.

Die groep is Vrydagoggend aangenaam verras met bewolkte weerstoestande wat vir ’n relatiewe koeler dag gesorg het in vergelyking met Saterdag waar temperature tot 42 grade gestyg het.

Ryers kon kies om óf die hele afstand te ry, óf slegs ’n gedeelte daarvan.

Dag een was oor ’n totale afstand van 82 kilometer wat ingesluit het Gamsbergpas af en op (8 km lank met ongeveer 430 meter toename in hoogte).

Dag twee was oor ’n afstand van 164 km wat ingesluit het Remhoogtepas af (23 km met ongeveer 500m vermindering in hoogte).

Op dag drie het die groep in ’n baie ontspanne luim saam op Nauams gery en bloot die natuurskoon geniet. Tyd is geneem om asem te haal en in te neem wat die Namibiese buitelug kan bied.

Die groep was gehuisves deur Nauams Namibia waar Frank en Sonica Coetzee na hulle omgesien het.

Die volgende persoonlike rekords is opgestel:

Floris Marx – 83 km (verste afstand)

Anke Kahl – 100 km (verste afstand)

Leane Laker – 100 km (verste afstand)

Betsy Koster – 8 km by Gamsbergpas (langste aaneen opdraand)

Andrea Horsthemke – 8 km Gamsbergpas (langste aaneen opdraand)

Die organiseerder Johan Fourie sê: “Met ’n byeenkoms wat geen titelborg het nie, gebruik ek graag die geleentheid om die volgende bydraende borge te bedank vir hul insette tot die sukses van die toer: Superspar The Grove; Cymot; Saroa Safari Lodge; Chiwani Safari Camps; Pupkewitz Toyota en Nauams.”