Adelé met topvlak insluiting vereer

Triathlon
Afrigting van juniors is naby aan haar hart, sê sy.
Andrew Poolman
Die Namibiese Triathlonfederasie het met trots bekend gemaak dat Adelé de la Rey tydens Wêreldtriathlon se onlangse vergaderings as een van net sewe wêreldwyd verkies is om op ‘n subkomitee van afrigters te dien.

“Adelé se toewyding, vernuf en passie vir die sport het waarlik haar plek onder die heel bestes verseker,” het die NTF in sy gelukwensing op sosiale media verklaar.

De la Rey het aan Sport Wrap gesê die afrigterskomitee van sewe lede vanoor die wêreld dek elke vasteland, insluitend drie vroue, van Suid-Afrika, Mexiko en ekself van Namibië.

“Ek is seker die Namibiese Triathlonfederasie is bevoorreg om verteenwoordig te word en sal uit die lidmaatskap kan baat.”

“Op die subkomitee van Wêreldtriathlon sal ons enige spesifieke uitdagings, of voorstelle, kan bespreek wat tot voordeel van atlete kan strek.”

De la Rey het in 2013 aan triathlons begin deelneem, meestal gefokus op die Ysterman se langer afstande, eerder as op die Wêreldtriathlon se reekse.

“In 2019 het ek in Korea ‘n kursus as vlak 1-afrigter bygewoon. Hierna volg dan so twee jaar waarin jy praktiese ondervinding moet opdoen.

“In 2022 is ek as Vlak 2 afrigter geakkrediteer. Ek het dieselfde jaar ook saam met Wynand Dreyer ‘n klub op die been gebring (D2 Training Squad) en steeds as afrigter aktief. Ek dien ook tans as sekretaris-generaal op die NTF-komitee.

“Afrigting van juniors is naby aan my hart ... daar is niks lekkerder as om ‘n junior te sien ontwikkel tot die volgende vlak en tot volle potensiaal nie. Ek rig juniors asook seniors in verskeie ouderdomsgroepe in plaaslike resiese af, en het Namibiese spanne na kompetisies in Afrika vergesel.

“Ons was ook twee naweke gelede met Maja Brinkmann, een van my atlete, by wêreldkampioenskap (in haar ouderdomsklas 16-19 jaar) in Spanje.”