Beeskontrei word weer op horings geneem
Motorfietssport
Die vyfde ronde van die Namibiese nasionale motocross-kampioenskap word komende Saterdag by die Gobabis-motocrossbaan op dié dorp beslis.Die Gobabis-motorfietsklub kon weens die landswye droogte verlede jaar nie sy verpligtinge nakom om sy kompetisies aan te bied nie. Die gebrek aan water om die baanoppervlak tydens byeenkomste nat te maak, het die klub genoodsaak om sy verpligtinge aan ander klubs af te staan.
Genadiglik het die prentjie vanjaar met goeie reëns verander. Nou kan die klub in die Beeskontrei opnuut sy plek in die motocross-kampioenskap by sy gewilde baan in die Omahekestreek volstaan.
Mark Sternagel, die heersende en verdedigende 2024 ope-kampioen, sal Saterdag sy eerste resies vir 2025 met ’n tweeslag-KTM 250 SXS by Gobabis aanpak. Mark se wapen van keuse was deurgans ’n blitsige vierslag-KTM 450 SXF. Die nuwe standaard-KTM word deur Central Cycles in Windhoek geborg.
Daar was vele bespiegelinge en klagtes dat sy mededingers, wat op kleiner tweeslag-250 cc-masjiene jaag, nie ’n kans teen hom in die ope-klas het nie. Mark het toe besluit om die spreekwoordelike speelveld gelyk te maak en ’n standaard 250 cc-tweeslag-veldfiets bekom om die res van die 2025-seisoen mee te jaag. Dus gaan die vonke Saterdag behoorlik in die ope-klas en King of the Dirt-kompetisie (KOD) tussen die mededingers spat. Mark sal graag wil bewys dat hy met ’n kleiner enjin dieselfde resultate as met ’n 450 cc kan behaal.
Die volgende jaers het tydens die vierde ronde van die Namibiese kampioenskap by Gallina volpunte met algehele eerste plekke in hul onderskeie klasse behaal. Hulle is: Mason Meyer (50 cc-klas), Oliver Mathews (65 cc), Leander Metzger (85 cc), Luca Brand (junior 125 cc), Markus Muller (senior 125 cc), Zoë Waldschmidt (vroue), Sigi Pack (veterane), Sanene Wittreich (klubmans) en Mark Sternagel (ope-klas).
Die KOD-kompetisie wat die laaste resies van die dag sal wees, sal opnuut vir oulaas die adrenalienvlakke van die ryers en toeskouers die hoogte laat inskiet. Mark Sternagel, Björn Bierbrauer en Tommy Gous het met die vierde ronde onderskeidelik eerste, tweede en derde in die KOD geëindig.
Die eerste renne van die dag begin Saterdag 11:00 en beloof puik hoëoktaanaksie.
Die voorlopige kampioenskapspuntestand ná vier kompetisies (onbevestig):
50 cc: 1 Mason Meyer (291), 2 Duhan Hefer (248), 4 Nicky Strauss (232), 4 Delmar du Plessis (204).
65 cc: 1 Oliver Mathews (292), 2 Carter Bouwer (250), 3 Markus Pack (236), 4 Maximillian Skutsch (216), 5 Keanu Strauss (200), 6 Paul Mans (197), 7 Sebastian Skutsch (195), 8 Arjen van Zyl (85).
85 cc: 1 Leander Metzger (291), 2 De Wet du Plessis (273), 3 Stiaan Hefer (224), 4 Duhan van Wyk (212), 5 Riaan van der Hoven (201), 6 Vincent Griebel (119), 7 Connor Bouwer (112).
Junior 125 cc: 1 Luca Brand (277), 2 Juan de Vos (276), 3 Leander Metzger (233), 4 JC Lochner (214), 5 Jarno Metzger (190), 6 Marco Lindemeier (107), 7 Nils Elmering (103), 8 Killian Hamm (48), 9 Zoë Waldschmidt (16).
Senior 125 cc: 1 Markus Muller (180).
Ope: 1 Mark Sternagel (300), 2 Björn Bierbrauer (264), 3 Tommy Gous (240), 4 Gero Friederich (114).
Veterane: 1 Sigi Pack (278), 2 Olaf Pack (258), 3 Tony Viljoen (230), 4 Rudi Brand (92), 5 Heiko Stranghöner (75), 6 Ronald Geiger (52), 7 Gerhard Simon (40), 8 Jörg Stranghöner (38).
Vroue: 1 Zoë Waldschmidt (216), 2 Melanize Oberholzer (192), 3 Maike Bochert (120).
Klubmans: 1 Sanene Wittreich (255).
KOD: 1 Mark Sternagel (100), 2 Björn Bierbrauer (88), 3 Tommy Gous (75), 4 Luca Brand (72), 5 Juan De Vos (71), 6 Olaf Pack (61),
7 Sigi Pack (59), 8 Leander Metzger (53), 9 Jarno Metzger (52), 10 JC Lochner (48), 11 Tony Viljoen (43), 12 Gero Friederich (38), 13 Markus Muller (32) 14 Zoë Waldschmidt (26), 15 Marco Lindemeier (22), 16 Rudi Brand (17), 17 Nils Elmering (17), 18 Heiko Stanghöner (16), 19 Vincent Griebel (10), 20 Ronald Geiger (8), en 21 Killian Ham (7). - tielman5.tvl@gmail.com
Comments
My Zone
No comments have been left on this article