Blues-speler neem blaaskans weens behandeling teen kanker

Rugby
Kanker is by Cameron Suafoa, ’n voorspeler van die Blues, gediagnoseer en hy gaan nou ’n blaaskans van rugby neem omdat hy sukkel met uitputting as gevolg van die behandeling wat hy ontvang.

Suafoa het die naweek in ’n plasing op sosiale media bekend gemaak dat hy kanker het. Hy sê dat hy die afgelope bietjie meer as ’n maand behandeling ontvang.

Die 25-jarige Suafoa, wat as losvoorspeler of slot diens kan doen, het vanjaar in die Super Rugby Pacific-reeks gespeel, al is ’n gewas laat verlede jaar uit sy rug verwyder. Hy het daarna bestraling ontvang en was verlede maand in die Blues se beginspan vir die kragmeting met die Hurricanes.

’n Week later was hy ’n plaasvervanger in sy 20ste wedstryd in die reeks teen die Waratahs in Sydney. Dit was net ’n dag ná sy weeklikse behandeling.

“In die oggende is ek gewoonlik nogal heel oukei, want dit is omdat ek dan pas wakker geword het. Ek is dan vol energie,” het Suafoa gesê.

“Dit is gewoonlik hier teen 12:00 of 13:00 se koers dat my kragte begin taan. Ek raak regtig maklik moeg.

“Dinge is tans wat dit is. Ek kan nie verander aan dit waardeur ek moet gaan nie. Hopelik kan ek fikser en sterker hiervan terugkom.

“Terugskouend was ek waarskynlik nie reg om aan myself te erken waardeur ek gaan nie. Ek neem aan dat ek in ontkenning geleef het. Dit was ’n paar weke voordat ek my familie gesê het.”

Die Blues is tans tweede op die puntelys van die Super Rugby Pacific-reeks, met die Hurricanes wat in die eerste plek is. Die Hurricanes is onoorwonne ná sewe wedstryde in die reeks. Hulle word afgerig deur die Skot Clark Laidlaw, wat tot verlede jaar Nieu-Seeland se sewesspan gebrei het.

– AFP; Netwerk24