Desert Ice T20-liga sal wintermaande opwarm

Krieket
Laas jaar se Nedbank Desert Ice T20-liga het vele opwindende kragmetings opgelewer.
Andrew Poolman

‘n Opwindende mengsel van agt krieketspanne is gretig vir die aanvang van die vierde seisoen van die Nedbank Desert Ice T20-liga wat komende naweek in Windhoek begin.

Altesame 30 wedstryde is in die vooruitsig totdat die semifinale op 1 Augustus en die eindstryd die volgende dag gespeel word.

Die Desert Ice T20-liga is tot stand gebring met die visie om meer as 180 krieketspelers blootstelling te gee om hul vaardighede te slyp en hul talent ten volle te ontwikkel. Dit dien ook as ‘n platform om spelers by te staan wat aspireer om vanaf junior en premierliga-vlak na die nasionale opset te vorder.

Die organiseerders se grootste droom is om die reeks in samewerking met sy korporatiewe en mediavennote tot dieselfde skaal en profiel as internasionale professionele T20-ligas uit te brei.

‘n Nuwe kampioen sal vanjaar na vore tree, met laas jaar se wenners Cricket Generation nie deel van die kompetisie nie. Cricket Generation het in Julie verlede jaar die eindstryd teen Gobabis Bulls met 33 lopies gewen, maar kon nie ‘n borgskap vir die nuwe seisoen vasgeknoop kry nie.

Die Gobabis Bulls uit die ooste, die Etungo Kudus (Okahandja en die noorde) asook die Spur Warriors (‘n kombinasie van Walvisbaai en Swakopmund) sluit aan by die meerderheid spanne wat in die hoofstad gesetel is.

Die volledige agt spanne, met die onderskeie borge wat elkeen rugsteun, is in alfabetiese volgorde:

• CCD Tigers (Crazy Monkey Cleaning Products)

• Central Sunrisers (Autohaus Windhoek en MR24/7)

• Etungo Kudus (Etungo Developers)

• Gobabis Bulls (BDO en Dr Rita Johnson Private School)

• Green Mambas (Moola Betting)

• Run Whisperers (YouTrack Fleet Management en Nel Snel)

• Spur Warriors (Spur)

• Unam Zebras (Supatronix Elite)

Nedbank Namibia is vir die derde opeenvolgende jaar die hoofborg van die reeks. Krieket Namibië, die Universiteit van Namibië, Nam Bat Doc, Afridec Construction en Synergi is ook bydraende rolspelers wat die reeks suksesvol help maak.

Die program vir die openingsnaweek by die United-veld in Olympia:

Saterdag 9 Mei

Wedstryd 1, Gobabis Bulls tn Central Sunrisers (09:00).

Wedstryd 2, Spur Warriors tn Green Mambas (14:00).

Sondag 10 Mei

Wedstryd 3, Spur Warriors tn Etungu Kudus (09:00).

Wedstryd 4: Unam Zebras tn Gobabis Bulls (14:00).