Dippenaar druk stempel op Tara af

Motorsport
Die feit dat net 'n enkele span weens teenspoed uit die tydren moes onttrek, was besonder ongewoon.
Tielman Van Lill
‘n Besonderse mylpaal is tydens die 55ste weergawe van die Shell V-Power Tara-tydren die afgelope naweek aangeteken. Vyftien van die 16 inskrywings in beide die S-klas en Uitdaagtydren-afdeling het Saterdag die gesogte tydren oor 181 kilometer buite die hoofstad voltooi.

‘n Vorige kampioenspan, Wilro Dippenaar met sy navigator Carolyn Swan, het die S4-klas gewen en die sedankompetisie in geheel ingepalm.

Ruaan Viviers en sy navigator, Cecil Koorts, het op hul beurt die CR2-klas opgeraap en die Uitdaagtydren algeheel oorheers.

Dippenaar, die verdedigende Tara-kampioen, het onberispelik met sy PZN Panelbeaters 4x4-Ford Fiesta R5 oor drie dae en 17 spesiale sneldele gejaag om in 2 ure 04 minute 22 sekondes te seëvier.

Dippenaar het elf van die 17 sneldele gewen. Allan Martin en Marieta Olivier (J&P Hydraulics 4x4-Škoda Fabia R5) het die tweede posisie ingeneem met Stefanie Botha en Mandi Landsberg derde met haar 4x4-Subaru Impreza STi. Beide Allan en Stefanie het in die S4-klas gekompeteer en eindig dus algeheel tweede en derde.

Algeheel vierde en eerste in die S2-klas was Zachary Martin en Anique Schoeman met sy J&P Hydraulics 2x4-VW Polo, gevolg deur Wido Bartsch en Raymond Fourie in ‘n Safewear 2x4-VW Polo.

Die derde plek in die S2-klas was deur Peer Röhm en Piet Steyn in sy Squamata 2x4-Ford Escort MK2 ingeneem.

Ongelukkig het net een span in die S1-klas oorgebly nadat DeWet du Plessis en Morné Bouwer sy Swakopmund Trailer Hire 2x4-Toyota Corolla weens meganiese probleme moes onttrek. Pieter Greeff en JP Robinson eindig algeheel sewende met sy sealconsultingengineers 2x4-Toyota Corolla en wen die S1-klas.



CR2-klas

Slegs 23 sekondes was die tydverskil aan die voorpunt van die Uitdaagtydrenkompetisie tussen Ruaan Viviers in sy CDC Solutions CC V8 Renault Duster en Etienne van den Heever en Willy van Wyk in die EPC V8-BAT Venom.

Viviers het agt van die sneldele gewen om in 2:11:33 die CR2-klas te beklink en algeheel eerste te eindig. Van den Heever eindig tweede (2:11:56) met Werner Bartsch en Christel Fourie derde (2:25:33) in sy Safewear V8-Landrover.



CR1-klas

Hier palm Ekko Eisenberg en Horacio Rietz met die M&Z Motorsport 2X4-V8-JAC (2:30:19) die louere in. Die tweede plek behoort aan SJ Schoeman en Chané Havenga (2:31:57) in sy Steckel’s Toyota Hilux GD6-2x4. Chrizelda Engels en Ruan de Lange eindig derde met 2:34:26 op die klok in haar Auto Care Centre V8-Nissan 2x4-Hardbody.



Die Tara se opgesomde voorste uitslae:

S4-klas en algeheel: 1 Wilro Dippenaar/Carolyn Swan (2:04:22), 2 Allan Martin/Marieta Olivier (2:08:52), 3 Stefanie Botha/Mandi Landsberg (2:26:23).

S2-klas: 1 Zachary Martin/Anique Schoeman (2:31:10), 2 Wido Bartsch/Raymond Fourie (2:31:53), 3 Peer Röhm/Piet Steyn (2:35:42).

S1-klas: 1 Pieter Greeff/JP Robinson (2:38:31).

Uitdaagtydren, algeheel: 1 Ruaan Viviers/Cecil Koorts, 2 Etienne van den Heever/Willy van Wyk, 3 Werner Bartsch/Christel Fourie.

CR2-klas: 1 Ruaan Viviers/Cecil Koorts (2:11:33), 2 Etienne van den Heever/Willy van Wyk (2:11:56), 3 Werner Bartsch/Christel Fourie (2:25:33), 4 Rolf Pretorius/Kai Pretorius (2:25:57), 5 Paul Ackerman/Werner Kauert (3:00:49).

CR1-klas: 1 Ekko Eisenberg/Horacio Rietz (2:30:19), 2 SJ Schoeman/Chané Havenga (2:31:57), 3 Chrizelda Engels/Ruan de Lange (2:34:26).

Die Walvisbaai-motorklub het 10 van die 16 inskrywings opgelewer.

– tielman5.tvl@gmail.com