Dobberstein maak sy merk by meesters-WB in Duitsland
Die Namibiese Ys- en Inlynhokkievereniging (NIIHA) het ’n opwindende internasionale mylpaal bereik, toe NIIHA se hoofskeidsregter vroeër vanjaar op uitnodiging by die gesogte Meesterswêreldbeker in Garmisch-Partenkirchen, Duitsland, opgetree het.
Lars Dobberstein het Namibië met trots op die internasionale verhoog verteenwoordig as deel van ’n ervare paneel skeidsregters van onder meer Australië, China, Colombia, Switserland en verskeie Europese lande.
Die toernooi het weereens die beste van meestersvlak-inlynhokkie ten toon gestel, met vier afdelings wat op wêreldvlak meegeding het: meesters (38 en ouer), veterane (45+), legendes (50+) en vroue (35+).
Die standaard van die toernooi was buitengewoon hoog, veral in die meestersafdeling, waar die topses spanne deur net klein punteverskille geskei is.
Veeleisende taak
Vir Dobberstein was die toernooi veel meer as net ’n geleentheid oorsee. Dit was ’n waardevolle ondervinding op een van die hoogste vlakke van meesters-inlynhokkie, asook ’n geleentheid om kennis uit te ruil en verhoudings met senior wedstrydbeamptes van oraloor die wêreld te bou.
Die skedulering was veeleisend, met skeidsregters wat vir twee tot drie hoë-intensiteit wedstryde per dag aangewys was.
’n Hoogtepunt van die toernooi was toe Dobberstein aangestel is om skeidsregter in die veterane se bekerfinaal tussen Tsjeggië en Kanada te wees. Die wedstryd is eers in bykomende tyd beklink voordat Tsjeggië die oorwinning beklink het.
Die intensiteit, spoed en standaard wat van die wedstrydbeamptes vereis is, was vergelykbaar met dié wat by die Wêreldkampioenskap ervaar word, wat die vlak onderstreep waarop Namibië se hoofskeidsregter blootgestel was.
Bou land se skeidsregterprofiel
Benewens die wedstryde self, het die toernooi ‘n waardevolle platform vir internasionale samewerking en skeidsregterontwikkeling geskep.
Dobberstein het professionele bande met senior beamptes gesmee, insluitend die Switserse skeidsregtertoesighouer Roby Engler, wat potensiële paaie vir voortgesette kennisdeling en ontwikkeling van internasionale skeidsregter oopgemaak het.
Sy deelname is ’n belangrike prestasie, nie net vir Dobberstein persoonlik nie, maar ook vir Namibiese inlynhokkie.
Die feit dat ’n Namibiese skeidsregter na ’n internasionale toernooi van hierdie kaliber genooi is, demonstreer die groeiende erkenning van Namibië binne die internasionale inlynhokkiegemeenskap.
Spelers kry ook geleentheid
Die voordele van die toernooi vir Namibië het nog verder gestrek.
Dobberstein noem in sy verslag dat die toernooi se organiseerders ‘n sterk belangstelling uitgespreek het om verteenwoordiging uit Afrika te vergroot. Gevolglik het Namibië ‘n formele uitnodiging ontvang om ‘n span in óf die meestersafdeling (38 en ouer) óf veterane (45 en ouer) na volgende jaar se toernooi te stuur.
Die kans vir Namibiese senior spelers om waardevolle blootstelling in ‘n internasionale kompetisie te kry, dra by om die nasie se profiel in inlynhokkie te verhoog.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article