Dosyne afrigters leer by Junior Bokke se kampioenbreier

Rugby
Samuel van Wyk
Namibiese rugby het ‘n deurslaggewende naweek agter die blad, met Supreme Sports Academy (SSA) wat amptelik sy eerste Coaching The Coaches slypskool by die Namibië Rugby-unie se Hage Geingob-stadion in Windhoek aangebied het.

Met byna 40 afrigters, verskeie van buite die Khomasstreek, is die byeenkoms gekenmerk deur positiewe energie, elite vernuf en ‘n duidelike boodskap: Beter afrigters help bou beter rugby — en Namibië is gereed daarvoor.

Die byeenkoms is nie sommer net gereël nie, maar is ontwerp deur drie gedugte rugby-afrigters:

• Bakkies Rossouw, stigter van SSA en hulpafrigter by FNB Wanderers, is ‘n dryfveer in jeugrugby en ontwikkeling vanaf grondvlak in beide Namibië en Suid-Afrika.

• Dirk Human, bekende opleier met kwalifikasie van Wêreldrugby en tans direkteur van rugby by FNB Wanderers, is bekend vir sy tegniese insig en leierskap in ontwikkeling van spelers.

• Die groot trekpleister was Melusi Mthethwa, hoofarigter van Suid-Afrika se Junior Bokke wat vanjaar die O.20 Wêreldkampioenskap in Italië vir die eerste keer in 13 jaar verower het. Die indrukwekkende span in groen en goud het vanjaar die verbeelding aangegryp op pad na hul onoorwonne segetog waarin hulle die semifinaal met 48-24 teen die Argentyne en die eindstryd met 23-15 teen Nieu-Seeland beklink het.

Oor drie dae is die slypskool ná werkure aangebied om deelname vir soveel afrigters as moontlik toeganklik te maak. Besprekings is in diepte gevoer oor onderwerpe wat hoëvlak prestasie beïnvloed, met eerstehandse demonstrasies op die veld.

Melusi se sentrale boodskap was: “Rig af met heldere duidelikheid en intensie”, terwyl Rossouw en Human die belangrikheid tuisgebring het van eenheid, gedeelde kennis en om van skole- tot senior vlak die standaarde hoër te lig.

Die slypskool is moontlik gemaak deur die rugsteun van toegewyde borge wat bydra om ambisie in werklikheid te omskep.

Die organiseerders bedank elkeen wat in rugby-opleiding en ontwikkeling belê het.

Selfs die eerste weergawe van die slypskool het positiewe aandag ontlok en SSA het reeds bevestigde planne vir ‘n selfs groter nasionale Coaching The Coaches byeenkoms in 2026, met meer streke betrokke, meer kundiges en ‘n dieper impak.

Rossouw sê: “Hierdie was bloot die begin. Die honger vir meer kennis is hier en ons kan nou daarop voortbou.”

Die toekoms van Namibiese rugby sal deur meer toegeruste en kundige afrigters bepaal moet word — en SSA het die lont aangesteek.