Eagles maak kleingeld van teenstanders

Krieket
Die Namibiërs se kolwers en boulers het albei uitgeblink om hul sterk vorm in die internasionale T20-reeks voort te sit.
Tielman van Lill

Die Namibiese FNB Eagles het Saterdag by die FNB Namibië Krieketstadion hul tweede internasionale T20-wedstryd met 90 lopies teen Nigerië gewen.

Die Eagles het eerste gekolf en 194 lopies vir die verlies van drie paaltjies in 20 boulbeurte opgestapel. Nigerië kon slegs met 104 lopies (almal uit) in 16 boulbeurte antwoord.

Junior Taanyanda het saam met Jan Frylinck as openingskolwer sy internasionale T20-debuut vir Namibië gemaak en sy eerste vyftigtal van 34 aflewerings behaal. Hy het Nigerië se boulaanval met gemak hanteer en 74* lopies (nie uit nie) van 50 aflewerings teen ’n treftempo van 148 behaal. Junior het nege grenshoue geslaan (7x4, 2x6).

Jan Frylinck het stewig vertoon en 32 lopies (32 balle, 2x6, treftempo 100) aangeteken voordat hy uitgevang is. Met 88 lopies vir die verlies van een paaltjie ná 10,3 boulbeurte was die Eagles se aanslag goed op koers.

Kaptein Gerhard Erasmus, wat op nommer drie ingestap het, se breë kolf het die besoekers soos ’n orkaan getref. Hy het teen ’n treftempo van 245 gekolf en 49 lopies (1x4, 6x6) van net 20 balle geslaan voordat hy uitgevang is.

Alexander Volschenk, wat Erasmus met die Eagles op 150/2 ná 15 boulbeurte vervang het, is ongelukkig deur die Nigeriese paaltjiewagter vir 12 lopies (6 balle, 1x6) uitgevang (169/3 ná 17.2 boulbeurte).

JJ Smit op nommer vyf het ’n bestendige 17* van 12 balle aangeteken, wat twee viere ingesluit het.

Die Namibiese boulaanval was, soos verwag, een te veel vir die besoekers. Die openingskolwers Salau Selim (28 van 29 balle; 2x4, 1x6) en Isaac Danladi (33 van 18 balle; 5x4, 1x6) was die enigste kolwers wat werklik teenstand kon bied.

Vir Namibië was JC Balt uiters suinig met sy boulwerk teen ’n ekonomietempo van 2.33 lopies per boulbeurt. Hy het drie paaltjies vir sewe lopies in drie boulbeurte geneem (3/7). Jack Brassell (2/13 in 4; ekon. 3.25), Waldo Smith (2/18 in 2; ekon. 9.00), JJ Smit (1/13 in 2; ekon. 6.50), Max Heingo (1/18 in 2; ekon. 9.00) en Ruben Trumpelmann (0/32 in 3; ekon. 10.67) het ook bygedra.

Mohammed Taiwo (2/37 in 4; ekon. 9.25) en Chima Akachukwu (1/31 in 3; ekon. 10.33) was die enigste suksesvolle boulers vir Nigerië.

Die FNB Eagles-span was Jan Frylinck, Junior Taanyanda, Gerhard Erasmus, Alexander Volschenk, JJ Smit, Zane Green, Jack Brassell, Ruben Trumpelmann, JC Balt, Max Heingo en Waldo Smith.

 

Eerste T20I

Die Eagles (127/3 in 18.1) het Vrydag vir Hongkong (126 almal uit in 19.1) met sewe paaltjies geklop.

Alexander Volschenk (69* van 56 balle; 1x4, 5x6) en JJ Smit (31* van 22 balle; 1x4, 2x6) was die Eagles se toplopiemakers. JJ Smit (3/19 in 4) was die suksesvolste bouler.

Namibië se volgende T20I is vandag om 14:00 teen Hongkong en môre om 14:00 teen Nigerië. – tielman5.tvl@gmail.com