Eagles vat nie nonsens van Botswana óf Uganda

Krieket
Andrew Poolman
Die Namibiese krieketspan het gister ongenaakbaar lesse uitgedeel in ‘n T20-opwarmwedstryd in Harare teen Botswana, wat die FNB Eagles met tien paaltjies gewen het.

Agt Afrika-lande sal vanaf Vrydagoggend tot 4 Oktober in die Zimbabwiese hoofstad meeding in die kwalifiserende toernooi waarin twee plekke na die volgende ICC T20 Wêreldbeker (Februarie-Maart 2026 in Indië en Sri Lanka) op die spel sal staan.

Gisteroggend by Takashinga-krieketklub het Botswana die loot gewen en gekies om eerste te kolf, maar kon net 85 vir sewe bymekaar skraap. Net drie kolwers kon dubbelsyfers kry, insluitend die hoogste van 29 nie uit nie (49 balle) van Reginald Nehonde. Botswana se kolfbeurt het net sewe viere en twee sesse ingesluit.

Die jong naatboulers Jack Brassell (2/16 in 3 boulbeurte) en Ben Shikongo (2/10 in 4 bb) het hul speelkans aangegryp. Nicol Loftie-Eaton (1/10 in 4) en Alexander Volschenk (0/10 in 4) het net 2.50 per boulbeurt afgestaan.

Namibië se aanvangspaar het net 7.1 boulbeurte nodig gehad om die teiken verby te steek (86/0). Malan Kruger was onoorwonne met 28 van 16 balle (3x4 1x6), terwyl Jan Frylinck 51 nie uit nie van 27 balle aangeteken het (sewe viere, een ses).

• In nog ‘n opwarmwedstryd Maandag in Harare het die Namibiërs met 93 lopies teen Uganda gewen. Die Eagles (205/6) het die Kraanvoëls tot 112/8 beperk.

Uganda het vroeg deurgebreek met die waardevolle paaltjie van Jan Frylinck (0) en het later nommer vier Gerhard Erasmus ook vir ‘n nulletjie laat terugstap. Nogtans het Malan Kruger (36 van 18 balle, 4x4 1x6) en nommer drie Nicol Loftie-Eaton (36 van 32 balle; 6x4) die grondslag gelê vir JJ Smit om ‘n haastige vyftigtal te moker (58 nie uit nie van 36 balle; een vier en vyf sesse).

Zane Green (31 van 22 balle) het een vier en twee sesse geslaan, terwyl Ruben Trumpelmann ook opnuut sy slaankrag uitgestal het met vier sesse en ‘n vier (32 van net nege balle).

Trumpelmann het opeenvolgens twee sesse en ‘n vier geslaan voordat hy uitgevang is in die 20ste boulbeurt, wat ‘n ronde 20 lopies opgelewer het.

Tydens Uganda se kolfbeurt het geen kolwer die 20-merk bereik nie. Die naatbouler Alexander Volschenk het 2/12 in twee boulbeurte geneem, terwyl Bernard Scholtz (1/22 in 3), JJ Smit (1/8 in 2), Trumpelmann (1/16 in 3), Erasmus (1/5 in 2) en Loftie-Eaton (1/5 in 1) ook deurbrake gemaak het.



Namibië se wedstrydskedule in Groep A vir WB-kwalifisering:

Vrydag 26 September, teen Kenia (oggendwedstryd 09:30).

Sondag 28 September, teen Nigerië (oggendwedstryd 09:30).

Dinsdag 20 September, teen Malawi (middagwedstryd 13:50).

Donderdag 2 Oktober: Semifinaal 1 en 2.

Saterdag 4 Oktober: Finaal.