FNB Eagles klop Kanada tweede keer
Krieket
Met Kanada uit die pad lê die groter toets teen Skotland vandag voor.
JJ Smit se waarde as ‘n ervare en uitgeslape linkerarm-naatbouler vir die FNB Eagles is opnuut onderstreep in sy puik vertoning Dinsdag teen Kanada.Die linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz (4/31 in 10 boulbeurte) en Smit (3/40 in 10) was prominent, terwyl Ruben Trumpelmann, Gerhard Erasmus en Tangeni Lungameni ook elk met een paaltjie bygedra het.
Namibië (261/8) het twee waardevolle ligapunte in die ICC Wêreldbeker Liga Twee driehoekige reeks by King City naby Toronto bygevoeg toe hulle Kanada (237 almal uit) met 24 lopies geklop het.
Die Kanadese kolfbeurt het in ‘n stadium dreigend gelyk terwyl hul kaptein Nicholas Kirton (46 van 44 balle) en Pargat Singh (40 van 50 balle) se vennootskap hulle op koers gehou het.
Smit is toe vir die 30ste boulbeurt nader geroep om ná sy netjiese eerste boulskof (0/15 in 5 bb) te hervat. Met die eerste aflewering het Kirton ‘n trekhou reguit in die hande van die Namibiese kaptein Gerhard Erasmus geslaan, wie se bulderende feesviering presies gewys het hoe belangrik dié deurbraak was.
Smit is meer bekend as ‘n kolwer wat met gemak sesse oor die grenstou kan lig, terwyl sporadiese knieprobleme hom met tye verhinder het om ook as naatbouler betrokke te wees.
Kort ná Kirton se vertrek het Scholtz, die algehele voorste paaltjienemer in die CWCL2-reeks, ook vir Pargat Singh laat stonk. Scholtz is later as speler van die wedstryd aangewys.
FONDASIE
Die Eagles het vroeër 'n stewige totaal van 261 vir agt in hul 50 boulbeurte aangeteken.
Die aanvangskolwer Malan Kruger het vroeër, na 'n versigtige begin, sy tweede vyftigtal in internasionale eendagkrieket bereik en sy vorige hoogste telling van 73 (teen Oman in Julie verlede jaar in Dundee, Skotland) oortref.
Kruger (80 van 132 balle; vier viere, een ses) was betrokke by handige vennootskappe met JP Kotzé (38 van 67 balle; 3x4) en veral Jan Frylinck (60 van 52 balle; een vier, vyf sesse), wat sy sesde eendagvyftigtal onmiddellik na sy eerste eendaghonderdtal verlede Woensdag aangeteken het.
Namibië het hul eerste paaltjie op 75 (20.2 boulbeurte) en hul tweede op 175 (39.2 boulbeurte) verloor. Die 100-vennootskap is ‘n Namibiese ODI-rekord om die tweede paaltjie.
Gerhard Erasmus (18 van 14; 3x4), JJ Smit (10 van 12, 1x4) en Nicol Loftie-Eaton se warrelwindbeurt (24 van 11 balle; 2x4 2x6) was die laaste noemenswaardige bydraes.
Kanada se voorste naatbouler Kaleem Sana (0/46 in 9 boulbeurte) het sy bes probeer om met 'n besering voort te boul, terwyl Jaskaran Singh redelik straf verduur het (3/71 in 10 boulbeurte; 12 wydlopers).
LOF VIR SCHOLTZ
“Uitslae in hierdie reeks het soveel nagevolge en ons moes elk van ons 261 lopies verdedig met alles wat ons het,” het Erasmus agterna erken.
“Op hierdie kolfblad is dit nie maklik om die sneller te trek (groot houe te slaan) nie en ons was ingestel om die druk op die teenstanders te hou en enige fout uit te buit. Ons het gereken ‘n span wat in onlangse tye redelik gesukkel het, sou onder druk kwesbaarheid wys om paaltjies te verloor, en dis wat toe gebeur het.”
Erasmus sê hy bly verbaas dat die 34-jarige Scholtz nie meer geleenthede kry om topklas professionele krieket oraloor die wêreld te speel nie. “Hy is die nommer vier bouler ter wêreld in eendagkrieket en hy wys voortdurend wat ‘n vernuftige draaier hy is.”
SKOTLAND
Namibië se laaste wedstryd op die toer is vandag (vanaf 17:00 Namibiese tyd) teen Skotland.
Die twee spanne se eerste ontmoeting afgelope Vrydag is deur onspeelbare toestande afgelas sonder dat ‘n bal geboul is en albei het een ligapunt gekry. Skotland handhaaf sedert 2022 ‘n wenrekord van 8-1 teen die Eagles.
Die Skotse aanvangskolwer George Munsey is ‘n gevaarman met die algehele meeste lopies in die reeks (978 in 16 kolfbeurte; gemiddeld 65.20; kolftempo 103.05). Munsey het Sondag teen Kanada 84* van 103 balle aangeteken.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article