Gewese Aussie-kolwer kry tronkstraf, maar spring tjoekie vry

Krieket
Die voormalige Australiese krieketspeler Michael Slater is tronkstraf van vier jaar opgelê nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van gesinsgeweld, maar sal nie tyd agter tralies deurbring nie nadat hy meer as ’n jaar lank in aanhouding was.

Slater se tronkstraf is gedeeltelik opgeskort, het ’n registrateur van die Maroochydore-distrikshof gesê.

Die 55-jarige Slater, in sy speeldae ’n aanvangskolwer vir die Aussies, is net meer as ’n jaar gelede borgtog geweier nadat hy aangekla is van voorvalle van gesinsgeweld aan Queensland se Sonskynkus tussen 5 Desember 2023 en 12 April 2024.

Slater is onder meer daarvan beskuldig dat hy ’n vrou van Noosa aangerand, probeer verwurg, by haar woning ingebreek en haar ook agtervolg het.

Tydens Slater se vonnisoplegging gister het regter Glen Cash aan hom gesê dit is voor die hand liggend dat hy ’n alkoholis is, berig die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC).

“Jou rehabilitasie sal nie maklik wees nie; alkoholisme is deel van wie jy is.”

Slater het die Aussies in 74 toetse en 42 eendagwedstryde verteenwoordig. In die langste formaat van die spel het hy 5 312 lopies teen ’n gemiddeld van 42.83 aangeteken. Dit sluit 14 honderdtalle en 21 vyftigtalle in.

Nadat Slater se toetsloopbaan in 2001 tot ’n einde gekom het, het hy ’n suksesvolle krieketkommentator geword, voordat hy in 2021 deur Seven Network in die pad gesteek is.

Slater is tevore ook reeds van gesinsgeweld aangekla en in 2022 is hy tot korrektiewe toesig van twee jaar gevonnis nadat hy skuld beken het op aanklagte van onder meer die aanranding van ’n vrou. – Reuters, Netwerk24