Groeploting sal Eagles die volle Indiese ervaring gee
Krieket
Namibië se FNB Eagles is saam met die verdedigende kampioen en gasheerland Indië, in Groep A geplaas vir die tiende weergawe van die ICC Mans T20 Wêreldbekertoernooi, wat op 7 Februarie 2026 begin.Indië streef daarna om die eerste span te word wat hul Mans T20 Wêreldbeker-kroon verdedig, en begin hul veldtog in Groep A teen aartsvyande Pakistan, VSA, Nederland en Namibië.
Die toernooi met 20 spanne sal oor 29 dae en in agt stadions (vyf in Indië en drie in Sri Lanka) aangebied word.
'n Totaal van 40 groepwedstryde sal tussen 7-20 Februarie gespeel word, met die twee topspanne van elke groep wat dan na die Super 8-fase van die toernooi vorder wat op 21 Februarie begin.
Die Indiese span het twee geelwortels voor sy neus. Geen land kon al daarin slaag om sy titel suksesvol te verdedig nie en geen land kon al op eie bodem die trofee omhoog hou nie.
Een van die hoogtepunte van die toernooi sal die kragmeting tussen Indië en Pakistan op 15 Februarie in Colombo wees. Indien Indië en Pakistan beide tot die eindstryd deurdring, sal die finaal ook in Colombo gespeel word. Die eindstryd is andersins vir 8 Maart in die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad bestem.
Die 2026-toernooi sal Namibië se vierde opeenvolgende verskyning by die ICC Mans T20 Wêreldbeker wees, met die Eagles se beste vertoning tydens hul debuut in 2021 in die Emirate toe hulle met oorwinnings teen Skotland, Ierland en Nederland vir die Super 12-fase gekwalifiseer het.
In die 2022-toernooi in Australië het Gerhard Erasmus en sy span opnuut die krieketwêreld laat regop sit toe hulle die Asiatiese Beker-titelhouer Sri Lanka in hul openingswedstryd geskok het. Die Eagles het 163/7 opgestel en het Sri Lanka vir 108 uitgeboul, met Jan Frylinck die speler van die wedstryd met 44 lopies (28 balle) en 2/26.
In 2024 in Wes-Indië het die Namibiërs hul openingswedstryd teen Oman in die superboulbeurt beklink nadat beide spanne op totale van 109 geëindig het. Namibië kon hierna egter nie teen Skotland, Australië of Engeland hond haaraf maak nie.
NAMIBIË se volledige wedstrydbepalings (plaaslike tye)
10 Februarie (11:00) teen Nederland in Arun Jaitley-stadion (Nieu-Delhi)
12 Februarie (19:00) teen Indië in Arun Jaitley-stadion (Nieu-Delhi)
15 Februarie (15:00) teen VSA in MA Chidambaram-stadion (Chennai)
18 Februarie (15:00) teen Pakistan by Sinhalese Sports Club in Colombo, Sri Lanka
Die T20 WB-groepe in 2026:
Groep A: Indië, VSA, Namibië, Nederland, Pakistan.
Groep B: Australië, Sri Lanka, Zimbabwe, Ierland, Oman.
Groep C: Engeland, Wes-Indiese Eilande, Bangladesj, Italië, Nepal.
Groep D: Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Afghanistan, Kanada, VAE.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article