Hingste oorleef teen United

Klubrugby
Die twee spanne wat boaan die puntelys eindig, sal in die finaal speel.
Andrew Poolman
FNB Wanderers het na die deurslaggewende tweede posisie op die puntelys van die JSB Gold Cup klubrugby premierliga-afdeling opgeskuif danksy Woensdagaand se naelskraapse oorwinning met 29-27 teen Trustco United op laasgenoemde se Gemsbokpark in Olympia.

Die nasionale rekordhouer vir die meeste drieë in toetse, die vleuel JC Greyling, het sy uittrede opsy geskuif en twee drieë vir Wanderers gedruk. Greyling was op die reserwebank saam met twee nasionale toetskapteins – Johan Deysel, wat ook ná die 2024-seisoen van die toneel verdwyn het, en Danco Burger, wat van ‘n onlangse besering op die terugkeerpad is.

Vir die Wit Hingste het Greyling (2), heelagter Tolley Tjipute, die kaptein en buitesenter Danie van der Merwe en agtsteman Edward Drotsky drieë gedruk, waarvan die senter SW Kuhn twee verdoel het.

Twee geelkaarte toegeken deur skeidsregter Zaid Isaacs, vir skrumskakel Reben Botha en slot Rainer Augustyn, het sake vir Wanderers bemoeilik, terwyl United se haker Dandre Schreuder ook tien minute in die koelkas moes deurbring.

United het ‘n verloorbonuspunt vir die punteverskil van minder as agt ingepalm, asook ‘n bonuspunt vir hul vier drieë wat deur vleuel Jandre Esterhuyzen, skrumskakel Elzandro van Wyk en losvoorspelers Zander Bronkhorst en Thehard Lintvelt afgerond is.

Die uitslag van die voorheen uitgestelde wedstryd het Wanderers (18 punte) laat opskiet met net FNB Grootfontein (19) voor hom. FNB Unam (16), FNB Kudus (13), United (10) en FNB Rehoboth (4) is volgende die enkelrondte, met elke span wat vier van sy vyf wedstryde voltooi het.

Die finale bepalings op 13 September wat die twee finaliste van die JSB Gold Cup premier-afdeling sal bevestig (tuisspanne eerste): Unam tn Wanderers; Grootfontein tn United; Rehoboth tn Kudus.

• In die wedstryd tussen die tweede spanne was Wanderers met 50-20 baas (agt drieë teen twee). Stut Iyambo Tshuuyah, losskakel Wiks Tromp en vleuel Vivean Gowaseb het elkeen twee gedruk.

• Ligastand, uitslae en komende wedstrydbepalings by www.fnbrugby.my.na/