Hoogste eer aan Erasmus en Mwatile toegeken
Krieket
Gerhard Erasmus en Wilka Mwatile is as speler van die jaar vir mans en vroue onderskeidelik aangewys toe Krieket Namibië sy jaareindfunksie Saterdagaand in Windhoek aangebied het.Erasmus (30), die kaptein van die Richelieu Eagles, is vereer as beide die land se T20-speler van die Jaar (363 lopies, gemiddeld 33; 18 paaltjies, gemiddeld 13.61) asook die toppresteerder van die jaar in internasionale eendagwedstryde (362 lopies, gemiddeld 32.91; 18 paaltjies, gemiddeld 22.39).
Vir die kalnderjaar 2024 is die jong aanvangskolwer JC Balt vir die beste vordering vereer.
Bernard Scholtz was die Spelers se Speler van die Jaar, en het ook ‘n spesiale erkenning as een van die mees ekonomiese boulers in die internasionale eendagspel ingepalm.
Die 34-jarige Scholtz is die hoogste paaltjienemer in die geskiedenis vir Namibië in eendagkrieket (92 paaltjies teen 'n uitsonderlike gemiddeld van 19.56). Hy is ook nommer 4 ter wêreld vir eendagboulers, 'n fenomenale prestasie op die wêreldverhoog.
Met meesterlike beheer oor sy stadige linkerarm draaiballe het hy reeds vele wedstryde en selfs reekse in Namibië se guns gehelp swaai.
Kaptein se spesiale ICC-erkenning
Sy konsekwentheid, durf en wêreldklas veelsydige vertonings het Erasmus die eer as ICC Manspeler van die Jaar 2024 uit die assosiaatlande besorg.
Erasmus het dikwels met kalmte onder druk presteer en het leierskap so skerp soos sy spel aan die Eagles gebied. In 2024 alleen het hy 727 lopies, 36 paaltjies en agt vyftigtalle in net 25 internasionale wedstryde aangeteken.
By die T20 Wêreldbeker in Wes-Indië het hy selfs teen 'n reusespan soos Australië sy man gestaan hoewel hy min ondersteuning gekry het.
Nasionale vrouespan, Capricorn Eagles 2024
Beste vordering: Eveleen Kejarukua.
Bouler van die jaar: Wilka Mwatile (26 wedstryde, 32 paaltjies, ekonomie 4.1, gemiddeld 12).
Kolwer van die jaar: Suné Wittmann (26 beurte, 512 lopies, treftempo 105, gemiddeld 21).
Spelers se speler van die jaar: Mekelaye Mwatile.
Capricorn Eagles speler van die Jaar: Wilka Mwatile.
Capricorn Eagles Changemaker-toekenning deur die Capricorn-groep: Wilka Mwatile.
Capricorn Eagles, Connector of Positive Change-toekenning: Suné Wittmann.
Krieket Namibië afrigter van die jaar: Francois van der Merwe (Capricorn Eagles; wenpersentasie 56% van internasionale wedstryde).
• Meer oor Krieket Namibië se toekennings aan spelers en spanne vanaf skole- en klubvlak, administrateurs, tellinghouers, veldopsigters op die sosiale media van Sport Wrap.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article