JJ Smit onkeerbaar in honderd van net 41 balle

Krieket
'n Ongesonde wanbalans kenmerk die T20-premierliga steeds.
Tielman Van Lill
Ná die tweede rondte die afgelope Saterdag van Krieket Namibië se T20-premierliga, is Wanderers die enigste onoorwonne voorloper op die punteleer, gevolg deur Old Boys en CCD Tigers (elk met een uit twee), terwyl Trustco United punteloos vierde in die laaste posisie is.

APS Samsung Wanderers (222 vir 1 paaltjie in 20 boulbeurte) se sege met 107 lopies teen CCD Tigers (115/7 in 20) het nie juis as ‘n groot verrassing gekom nie.

Nadat die openingskolwer van Wanderers, Niko Davin, uitgehaal was, het sy aanvangsvennoot, JC Balt (64 nie uit nie van 58 balle, 7x4, 2x6) en JJ Smit saam 164 lopies van net 75 balle geslaan.

Smit was eenvoudig verwoestend met 118 nie uit nie (46 b, 4x4, 13x4). Sy eerste 30 lopies het van 25 balle gekom, voordat hy die vyftigtal met sy 27ste bal bereik het in ‘n boulbeurt van Junior Kariata waarvan hy (met drie sesse) en Balt 23 lopies geplunder het

Die volgende boulbeurte deur Donovan Zealand en Tangi Nuuyoma het onderskeidelik 19 en 23 lopies gekos, voordat Ben Shikongo in die 17de boulbeurt die bloeding met net ses effens gestop het.

Simon Shikongo (26 lopies in boulbeurt 19) het Smit se honderdtal van net 41 balle sien aanbreek, voordat Ben Shikongo die 20ste boulbeurt vir net agt lopies afgestuur het.

Davin (18 van 21 b, 3x4) is deur Junior Kariata van Simon Shikongo (1 paaltjie vir 35 lopies in 3 boulbeurte) se boulwerk uitgevang. Die Tigers-boulers het boonop ‘n gesamentlike 17 wydlopers afgestuur.

Die Tigers-openingspaar Ryan Moffett (1 lopie) en Joshuan Julius (6) kon nie weer soos in hul eerste wedstryd die vorige Saterdag teen Trustco United saam 123 lopies vir ‘n sege opstapel nie.

Helao Ya France (24 van 12 b, 4x4, 1x6) en Donovan Zealand (34 van 35 b, 2x4, 1x6) het die beste vir Tigers met die kolf gevaar.

Jan-Izak de Villiers (3/18 in 4) het goed geboul, terwyl Bernard Scholtz, Karl Birkenstock, PD Blignaut en JC Balt elk ‘n paaltjie vir Wanderers laat val het.



OLD BOYS KAP TERUG

ATG WHS Old Boys (203/5 in 20) se oorwinning teen Trustco United (81 almal uit in 14.4) was eweneens ‘n eensydige affêre.

Vir Old Boys was Gerhard Erasmus (76 van 47 b, 5x4, 4x6), JP Kotzé (45 van 25 b, 4x4, 1x6), Zacheo van Vuuren (26 van 20 b, 3x4, 1x6) en Morkel Malan (24 van 21 b, 5x4) saam vir 171 lopies verantwoordelik.

Ado Iita het 2/38 in 4 vir United gevat, terwyl Handré Klazinga, Johan Pieters en Steph Fourie elk met een slagoffer bygedra het.

Michael Müller (30 nie uit nie van 39 b, 1x4) en Zane Green (18 van 12 b, 2x4, 1x6) was United se topkolwers.

Zhivago Groenewald (4/13 in 4), Francois du Plessis (3/20 in 3.4), Shaun Fouché (2/15 in 2) en Erasmus (1/12 in 3) het min moeite ondervind om deur hul teenstanders se kolflys te draf.

• Net komende naweek se derde rondte is nog ‘n formaliteit voordat die T20 premierliga se eindstryd ‘n week later gespeel word.

– tielman@nsh.com.na