Kanada het geen raad teen die Eagles

Krieket
Andrew Poolman
Die Namibiese Richelieu Eagles het gister sy internasioanle T20-reeks van vyf wedstryde teen Kanada met 3-0 beklink, nadat twee wedstryde in geheel uitgereën het.

Afrigter Pierre de Bruyn se manne het klaarblyklik nie hul aptyt vir T20-krieket verloor nie, ondanks die opdraande wat hulle die afgelope maande in die eendagformaat gekry het.

Kanada het gister 142 vir sewe opgestel (Nicholas Kirton 37 van 26 balle), nadat die naatboulers Ruben Trumpelmann (2/40 in 4 boulbeurte) en Jack Brassell (2/15 in 4) die toon aangegee het.

In die Namibiese antwoord is JP Kotzé vir 5 uitgevang, maar Niko Davin (52 nie uit nie van 41 balle; 3x4 1x6) en Nicol Loftie-Eaton (65 van 32 balle; 7x4 4x6) het aanvallend gekolf in ‘n vennootskap van 104 lopies.

Nadat Loftie-Eaton in die elfde boulbeurt uitgevang is, het kaptein Gerhard Erasmus 17* van 14 balle (1x4) bygedra tot die oorwinning met agt paaltjies (met 28 balle oor).

• In Saterdag se reënbelemmerde wedstryd is Kanada se stotterende kolfbeurt op 42/7 in 13 boulbeurte deur ‘n stortbui tot ‘n einde gebring.

Dit was nadat JJ Smit vier paaltjies vir nege lopies in vier boulbeurte geneem het, om vir die tweede opeenvolgende keer as speler van die wedstryd aangewys te word.

Die weer het later toegelaat dat die Eagles kon gaan kolf en JP Kotzé (32 nie uit nie van 14 balle) het met vier viere en twee sesse verseker dat die wenlopies vir die sege met tien paaltjies ná net 2.4 boulbeurte afgeblits is.