Kandidate in Dubai sal druk moet hanteer

Rugby
Andrew Poolman
Geen opponent durf onderskat word nie en die Namibiese span is voornemens om elke wedstryd in Dubai te wen, sodat nie op gunste deur enige ander span staatgemaak hoef te word nie.

Só het die Namibiese direkteur van rugby, Jacques Burger, gister in ‘n aanlyn nuuskonferensie met Namibiese media gesê tydens die aankondiging van die wedstrydgroep teen België vir hul openingswedstryd van die Wêreldbeker 2027 repechage-toernooi (finale kwalifiserende toernooi) in Dubai.

Burger, hoofafrigter Pieter Rossouw en die res van die breinstrust het ‘n sterk reserwebank gekies met ses voorspelers en twee agterspelers.

Die onlangse terugkeer van Johan Deysel en JC Greyling was straks net betyds om vir die ongelukkige beserings van Le Roux Malan en Gerswin Mouton te vergoed – en besorg losskakel André van der Berg met ‘n bedrewe agterlyn indien hulle goeie besit op die die voorvoet kan bewerkstellig.

Met relatief min dae voorbereiding vandat die volle spelersgroep vanaf hul oorsese klubs versamel is, sal die Namibiese agttal geen tyd kan verspeel om hul stempel op sake af te druk in die land se geskiedkundige eerste toets teen België nie.



Nuwe kaptein

Warm toestande in Dubai is een van die faktore waarmee elk van die vier spanne rekening sal moet hou. Maksimum temperature van 30 tot 33 grade Celsius is aan die orde van die dag.

Volgens Louis van der Westhuizen, die nuut aangewese Namibiese kaptein, het ‘n stofstorm oor Dubai op die dag van hul aankoms gewoed.

“Dis maar warm hier en tydens ons oefensessies voel dit soms asof ‘n mens nie behoorlik kan asem haal nie. Ons hoop maar dit klaar bietjie op na Saterdag toe.”

Volgens Van der Westhuizen het die Belge geen wedstryde sedert Augustus gespeel nie, maar is hul laaste drie wedstryde se video-opnames wel ingespan om data saam met die span se video-ontleder Devon O’Brien deur te werk.



Namibië se span teen België

15 Jay-Cee Nel (Airlink Pumas)

14 Divan Rossouw (Seattle Seawolves, VSA)

13 Johan Deysel (FNB Wanderers)

12 Danco Burger (FNB Wanderers)

11 JC Greyling (FNB Wanderers)

10 André van der Berg (FNB Wanderers)

9 Helarius Kisting (Dinamo Bucure?ti, Roemenië)

8 Adriaan Booysen (US Marmandaise, Frankryk

7 Max Katjijeko (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië)

6 Wian Conradie (New England Free Jacks, VSA)

5 Tiaan de Klerk (Airlink Pumas)

4 Adriaan Ludick (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië)

3 Haitembu Shikufa (Luiperds)

2 Louis van der Westhuizen (kaptein, Vrystaat-Cheetahs)

1 Otja Auala (FNB Unam / Rhino rugby-akademie, Kaapstad)

Reserwes

16 Torsten van Jaarsveld (Bayonne)

17 Gianluca Savoldelli (UXI rugby-akademie, Kaapstad)

18 Aranos Coetzee (Vrystaat-Cheetahs)

19 Johan Retief (Orkan Sochaczew, Pole)

20 Prince !Gaoseb (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië)

21 Johan Luttig (FNB Grootfontein)

22 Jacques Theron (FNB Wanderers)

23 Cliven Loubser (Anthem Rugby, VSA)



Europeërs tweede volgens ranglys

België is die afgelope tyd goed op stryk en het vier uit hul laaste vyf wedstryde gewen – insluitend ‘n wegtoets teen Kanada wat in daardie stadium reeds sy kwalifisering na die 2027 WB

Die Zwarte Duivels word aangevoer deur die flank Jean-Maurice Decubber, wat sy klubrugby vir Massy in Frankryk speel. Decubber (29) was vanjaar die enigste Belgiese speler wat vir die droomspan van die toernooi ná afloop van die Rugby Europa-kampioenskap gekies was. Sy spoed na die afbreekpunte word as ‘n sterk punt in België se oplewing uitgewys.

Jens Torfs, ‘n geharde en bebaarde senter, is ‘n veteraan vir meer as ‘n dekade en was vanaf 2017 lank die spankaptein.

Die tweelingbroers Matias Remue (losskakel of heelagter) en Florian Remue (senter of vleuel) is ook onvloedryke spelers, asook die haastige 21-jarige vleuel van die Brussels Devils, Lucas Michiels.

‘n Sterk kern van ses Belgiese spanlede speel in Frankryk se Top 14 of die tweede professionele vlak (Pro D2) en nog elf vir klubs in die derde vlak (Nationale).



Onlangse vertonings

België se uitslae in 2025 Rugby Europa-kampioenskap:

1 Februarie in Lissabon: verloor 30-40 teen Portugal

8 Februarie in Mons (België): verloor 14-31 teen Roemenië

15 Februarie in Kassel (Duitsland): wen 39-19 teen Duitsland

(Dié uitslag laat eindig die Duivels derde in hul groep).

1 Maart in Waterloo (België): wen 38-5 teen Switserland (uitspeelwedstryd)

15 Maart in Amsterdam: wen 31-10 teen Nederland (5de-plek finaal)

(Laasgenoemde uitslag bespreek België se plek in die Finale Kwalifiserende Toernooi)

Vriendskaplik, 5 Julie in Charlotte, North Carolina, VSA: verloor 17-36 teen VSA

(Laasgenoemde was die eerste rugbytoets ooit tussen die twee lande)

Vriendskaplik, 12 Julie in Edmonton (Kanada): wen 25-18 teen Kanada



Valbylreëls

In die geval dat twee of meer spanne ná hul drie wedstryde met ewe veel ligapunte klaarmaak, word die volgende kriteria in hierdie volgorde gebruik:

1) Die wenner van die botsing tussen twee gelykop spanne.

2) Die span met die beste punteverskil.

3) Die span met die beste verskil tussen drieë gedruk en afgestaan.

4) Die span wat die meeste punte in sy drie wedstryde aangeteken het.

5) Die span wat die meeste drieë in sy drie wedstryde gedruk het.

6) Die span wat op Maandag 13 November 2025 in die hoogste posisie op die wêreldranglys is.

• Alle wedstryde in die toernooi word regstreeks op RugbyPass TV uitgesaai (facebook.com/rugbypass).