Klein Russell trek aandag by Killarney

Motorsport
Andrew Poolman
Die sewejarige Russell Josephat van Windhoek het die beste gevaar van die ses Namibiese jaers wat laas naweek by die tradisieryke Killarney-renbaan in Kaapstad aan die Suid-Afrikaanse knortjorreeks (go-karts) se eerste byeenkoms deelgeneem het.

Dieselfde tweedaagse byeenkoms is ook as ‘n Afrika Ope-kompetisie aangebied, met van die vasteland se bestes teenwoordig. In Russell se Bambino-kategorie (ryers vyf tot agt jaar) was hy die enigste Namibiër, maar benewens die meerderheid Suid-Afrikaanse uitdagers was daar ook een inskrywing uit Mosambiek.

Russell, ‘n graad 2-skolier by Delta Primêre Skool wat vanweë sy voertuig se nommer ook as RJ63 bekend is, het in die vyfde posisie tydens die kwalifiserende rondte asook die eerste uitdun geëindig.

In die tweede uitdun het hy vinnig weggespring en tot die vierde posisie gevorder, maar is toe van agter gestamp en het beheer verloor, waarna hy hom aan die agterpunt van die groepie ryers bevind het.

In die derde uitdun was hy in die negende wegspringposisie en het opnuut sy pad tot vyfde opgewerk, maar weer eens het hy van die baan af getol en sy voertuig het in die proses ‘n meganiese terugslag opgedoen wat hom verhinder het om klaar te maak.

In die laaste resies, vir die Afrika-kampioenskap, het hy weer negende weggespring en opnuut die vyfde posisie gehaal, voor hy uiteindelik sesde in die nasionale kampioenskap en vyfde in die Afrika Ope geplaas is.

Volgens sy pa JP het Russell ook daarin geslaag om ‘n gemete reguit gedeelte die hoogste topsnelheid van almal (76 km/h) op te stel.

Russell se volgende kompetisie sal op 13 April by die Tony Rust-baan wes van Windhoek wees. Hy beoog ook om aan soveel as moontlik van die Suid-Afrikaanse reeksbyeenkomste vir die jaar deel te neem. Die volgende hiervan is by die iDube-baan by Pietermaritzburg op 3 en 4 Mei, voor die laaste twee (vroeg in Julie in Benoni, en einde Augustus by Zwartkops in Pretoria).