Kudus bespreek eindstryd teen Wanderers

Klubrugby
Spanne nommer een en twee op die puntelys het soos verwag deurgedring om vir die trofee mee te ding.
Andrew Poolman
FNB Kudus het vir die eerste keer in die klub se bestaan tot die eindstryd van die Namibië Rugby-unie se premierliga deurgedring, waar ‘n ywerig afgewagte skouspel teen die heersende titelhouer FNB Wanderers komende naweek voorlê.

Die Walvisbaaiers was Saterdag indrukwekkend in hul stelselmatige aftakeling van die vasberade FNB Grootfontein se weerstand op pad na ‘n oorwinning met 32-27.

Met die hoofpawiljoen van die Hage Geingob-stadion grootliks in blou gekleur met reisende ondersteuners van die kusspan, het die senter PJ Walters en sy manne verseker dat hulle vir die derde naweek op ‘n streep na die hoofstad sal reis – hierdie keer met die wentrofee van die NRU premierliga wat op die spel sal staan.

Kudus het die vorige twee seisoene ook tot die halfeindronde deurgedring, maar beide kere is hul hoop deur die uiteindelike kampioenspanne Trustco United (2023) en Wanderers (2024) verydel.

Grootfontein het hom opnuut manmoedig teëgesit teen ‘n mededinger wat hom die afgelope seisoene telkens tweede viool laat speel het – meestal met kleinerige punteverskille. Grootfontein, wat tevore in die NRU eersteliga meegeding het, het in sy debuutseisoen in die premierliga (2021) ‘n oorwinning teen Kudus behaal, maar kon dit sedertdien nog nie weer regkry nie.

Ná agt wedstryde elk het Wanderers (45 punte) vanjaar onoorwonne bo geëindig, met Kudus tweede (ses gewen, 34 punte).



Kudus bly in beheer

Kudus se afrigterspan met Roger Thompson (direkteur van rugby) en Shaun White (hoofafrigter) aan die stuur kan tevrede voel met beide hul eerste- en tweedespan, wat onderskeidelik tot die finaal van die NRU premierliga én NRU reserweliga deurgedring het.

Kudus teen Grootfontein was op die oog af die meer aanskoulike semifinaal as die latere, meer taktiese stryd tussen Wanderers en United.

Die Walvisbaaiers het meestal in beheer van hul kragmeting gelyk, selfs terwyl Grootfontein deurentyd in hul nek geblaas het. Dit was uiteindelik die noordespan se onbetroubare stelskopwerk pale toe en gebrek aan diepte op die reserwebank wat verhinder het dat hulle enduit meer druk op die telbord kon toepas.

Die opgesomde verloop (Kudus se telling eerste):

7 minute: Slot Pieter Luttig druk vir Grootfontein vanaf ‘n lynstaandryf. Vleuel Uroèl Marais skop mis (0-5).

12 minute: Stut Hillary Mwashi rond ‘n Kudus-maalbeweging af. Losskakel Michael Koopman verdoel (7-5).

21 minute: Grootfontein se heelagter Lorenzo Louis kry ‘n geel kaart en Koopman slaag met die strafdoel voor die pale (10-5).

27 minute: Haker Wikus Jacobs druk vanaf ‘n Grootfontein-lynstaandryf. Marais skop mis (10-10).

28 minute: Grootfontein bemeester die afskop en stuur linkervleuel Luis Talaya op ‘n lopie. Hy verloor die bal op die grond en sy opponent Irongwa Atshivudhi vind heelagter Aston Mukwiilongo, wat vorentoe skop en jaag. Pieter-Daan Kok val terug om te keer, maar onder druk kry Mukwiilongo weer die bal en duik agter die pale oor, vir Koopman om te verdoel (17-10).

34 minute: Grootfontein se lynstaandryf lei tot flank Pieter-Daan Kok se drie. Rudi Pretorius skop mis (17-15).

38 minute: ‘n Mukwiilongo-lopie verskaf die vonk en by die afbreekpunt tel Kudus-agtsteman Ja-Tamson van der Berg op en sny 30 meter deur vir sy drie. Koopman verdoel (rustyd 24-15).

45 minute: Wikus Jacobs se tweede drie van ‘n lynstaandryf. Marais skop mis (24-20).

52 minute: Koopman slaag met strafdoel (27-20).

58 minute: ‘n Grootfontein-aanval lei tot ‘n strafdrie (27-27).

60-61 minute: Agtsteman Johan Luttig nael terug om net-net betyds dood te druk in ‘n resies teen Koopman. Grootfontein se inskop van die doellyn af word deur Atshivudhi raakgevat en van die volgende fase hanteer PJ Walters twee keer om die flank Franco Vries deur te stuur. Koopman skop mis (32-27).

68 minute: Kudus oortree op die grond onder hul eie pale ná ‘n lopie van Rudi Pretorius. Skeidsregter Johre Botha ken weer ‘n strafdrie toe en skrumskakel Rayshawn Shoombe kry ‘n geel kaart (32-34).

71 minute: Strafdoel deur Koopman (35-34).

74 minute: Carl-William Freygang (reserwestut) stamp in die middelveld. Senter Justin Newman flits deur ‘n gaping en stuur Mukwiilongo om sy tweede drie in die hoek te gaan druk. Koopman verdoel netjies (42-34).

82 minute: Strafskop voor die pale en Pretorius skop oor, maar die tyd is verstreke (42-37).



Wanderers 39-14 United

Die verloop van die wedstryd (Wanderers se telling eerste):

4 minute: United se skrumskakel Enrique Husselmann skop mis met ‘n strafskop.

7 minute: Wanderers se losskakel Danco Burger skop mis met ‘n strafskop.

10 minute: Aanvallende lynstaandryf vorder en Wanderers stuur wyd na heelagter Johny Mwenyo, wat vasgevat word. Skrumskakel Jacques Theron breek weg en stuur met sy binne-aangee vir Danco Burger oor die doellyn, wat nie kon verdoel nie (5-0).

13 minute: Husselmann skop mis met ‘n strafskop.

18 minute: United skop ‘n strafskop nie uit nie en Burger begin ‘n teenaanval. Vier aangeë later kan niemand die agtsteman Adriaan Booysen keer nie. Burger verdoel (12-0).

22 minute: Hanteerfout in Wanderers-agterlyn uitgebuit met lopies deur Jandre Esterhuyzen en DJ Holtzhausen voor die senter JD Nel vir United gaan druk. Ricardo Swartz verdoel (12-7).

28 minute: Swartz stel ‘n strafskop op die middelkol, skop links verby.

33 minute: Booysen en Joe Losper stamp in die middelveld ná ‘n lynstaan. Mwenyo ontvang die bal wyd en kry sy aangee weg vir Jurgen Meyer se drie. Burger verdoel (19-7).

39 minute: Fases op die doellyn voor United se stut Johan Brockman sy drie druk. Swartz verdoel (rustyd 19-14).

53 minute: Geel kaart vir Wanderers-stut Hans Ngoshi.

60 minute: Strafdoel deur Burger (22-14).

70 minute: Breekslag deur Burger plaas Wanderers op die aanval en United se skrum word gestraf. Theron vat tikskoppie en slot JP Campbell duik oor. Burger verdoel (29-14).

76-77 minute: Ruan Ludick steel ‘n lynstaan op sy 22-lyn. Vloeiende beweging met twee fases en tien aangeë volg voor haker Edward Drotsky drie manne wegstamp vir sy drie, wat Burger verdoel (36-14).

80 minute: Strafdoel deur Burger (39-14).



Eindstryde op 7 Junie in Windhoek

NRU vroueliga: Unam Steenbokkies teen United Gemsbokkies.

NRU reserweliga: FNB Kudus II tn FNB Unam II.

NRU premierliga: FNB Wanderers tn FNB Kudus.