Kudus en Wanderers dominant op puntelys

Klubrugby
FNB Western Suburbs is derde geplaas van die drie onoorwonne spanne ná twee rondtes.
Andrew Poolman
Die titelhouer FNB Wanderers lyk vasberade in ‘n opmars na nog ‘n titel in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga.

Afrigter Darryl de la Harpe se Wit Hingste het Saterdag op hul tuisveld eers in die tweede helfte die oorhand bewerkstellig om die FNB Universiteit van Namibië met 46-24 te klop – ‘n soortgelyke punteverskil as in verlede jaar se eindstryd toe Wanderers met 45-20 gewen het.

Wanderers het ses drieë teen drie gedruk. Unam se driedrukkers was die senters Raschano van Rooi en Suramie Kambombo, asook linkervleuel Shareave Titus. Aljarreau Zaahl (losskakel) het met drie doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag.

Geel kaarte vir Abraham Ilonga (slot) en later die plaasvervangers Wesley Williams en Mbahimua Nunuhe het die studentespan se momentum belemmer. Ilonga is vir tien minute afgestuur vir ‘n hoogvat op Denzo Bruwer wat die Wanderers-losskakel ‘n hou teen die kop besorg het. Bruwer het voortgespeel, maar is na heelagter geskuif in ‘n uitruiling met Johnny Mwenyo.

Unam was rustyd net met 14-17 agter en het kort daarna met ‘n verdoelde drie deur Van Rooi die voortou met 21-17 geneem, maar Wanderers het hierna begin munt slaan uit beter afronding.

‘n Onderskepdrie deur Danie van der Merwe; ‘n kragtige lopie vir nog ‘n drie deur sy sentermaat Natie van Rensburg toe hy ‘n inskop van die doellyn af gevang het, en ‘n stormdrie deur Adriaan Booysen van ‘n beplande strafskopbeweging het die uitslag uit Unam se hande geneem.

Die skrumskakel en kaptein Jacques Theron, met ‘n individuele breekslag, vleuel Owen Hawanga en ‘n strafdrie het Wanderers se getal drieë voltooi, met die skopskoene van Bruwer (twee doelskoppe) en Mwenyo (twee doelskoppe, twee strafdoele) wat die res gedoen het.



Oplewing in Khomasdal

Met twee uit twee gewen is FNB Western Suburbs gunstig geplaas ondanks die aftrekking van drie ligapunte elk vir Suburbs en FNB Reho Falcon ná die openingsnaweek, vanweë die laat indiening van hul spelers se registrasie.

Saterdag het die tuisspan ‘n oorwinning met 15-7 teen FNB Grootfontein beklink.

Vir Grootfontein was Louis Grobbelaar, Pieter Daan Kok en Nelius Theron afwesig uit hul span wat teen Trustco United gewen het, maar nogtans het die noordespan genoeg kanse geskep om die wedstryd te kon wen, terwyl hul algemene dissipline hulle ook in die steek gelaat het.

Uiteindelik was ‘n strafdrie ná 26 minute, toegeken toe Suburbs wederregtelik met ‘n lynstaandryf ingemeng het, die enigste punte vir Grootfontein.

Weens die goeie reënseisoen was die veld by Suburbspark reeds deurdrenk met water voordat die tweede spanne afgeskop het. Suburbs het uiteindelik die toestande beter hanteer en munt geslaan uit Grootfontein se foute.

Een duur Grootfontein-glips was ná 17 minute toe vleuel Lazarus Joseph uit sy kwartgebied in die moeilikheid in gehardloop het. Suburbs het die bal afgeneem en na links gestuur vir flank Delano van Wyk se onverdoelde drie in die hoek.

‘n Flink breekslag deur senter Morgan Esterhuizen was die aanvoorwerk vir die drie wat Ethan Beukes (flank) ná 30 minute afgerond het, vir heelagter Dwayne van Zyl om te verdoel (12-7).

Weens die gesukkel om vas te trap, het skeidsregter Johre Botha op sommige plekke beslis dat in die skrums nie meegeding moes word nie.

Weerlig in die omgewing het spel ná 72 minute gestaak, waarna ‘n sterkerige wind en reënweer sake verder bemoeilik het met die terugkeer vir die oorblywende minute.

Dwayne van Zyl se strafdoel (43 minute) was die tweede helfte se enigste punte – wat vir Grootfontein selfs ‘n moontlike verloorbonuspunt gekos het.



Kudus bly boaan

Op Walvisbaai is die onoorwonne voorloper FNB Kudus ook besig om sy wenplanne te smee, met ‘n oorwinning van 26-7 teen FNB Rehoboth.

Kudus het ‘n bonuspunt bygevoeg weens sy vier drieë, deur vleuel Irongwa Atshivudhi, senter PJ Walters, skrumskakel Rayshawn Shoombe en flank Franco Vries. Michael Koopman (losskakel; een doelskop) en Aurelio Plato (plaasvervanger; twee doelskoppe) het skoppunte behaal.

Rehoboth se Rooi Bulle kon net ‘n drie en doelskop deur losskakel Geraldo Beukes vir sy moeite wys en het geen ligapunt behaal nie, in ‘n wedstryd wat selde behoorlike vloei opgelewer het.

Miquel Busch, gekies as senter en kaptein van Rehoboth, het ‘n geel kaart gekry, terwyl Kudus se losvoorspeler Ja-Tamson van der Berg ook tien minute in die koelkas uitgedien het.

Die gladder kombinasies en impak van die bank af wat Kudus se direkteur van rugby Roger Thompson graag met sy plaasvervangings wou sien, het ook deurgekom nadat Rehoboth eerste saam met die wind gespeel en tot rustyd nog voorgeloop het (7-5).



Falcon klop Dolphin

Onderaan die puntelys het FNB Reho Falcon op die Dr. Lemmer-skoolveld met 21-7 die aanslag van FNB Dolphin afgeweer.

Die slot Jerome Schumann, tevore van Rehoboth, het die Swakopmunders se enigste drie gedruk, wat deur plaasvervanger Kapura Tjiriange verdoel is.

• Uitslae, komende wedstrydbepalings en die stand van die puntelys by www.fnbrugby.my.na/



Vrouewedstryd

Unam Steenbokkies het hul wegwedstryd teen Wanderers Bokkies met 34-15 gewen.

Vir die heersende vrouekampioenklub is Ivone Kooper as skrumskakel ingespan, van waar die blitsige Steenbokkie vier drieë ingeryg het. Linkervleuel Ida Adama was ook ‘n driedrukker, terwyl Michelle Slinger en Mandy Hasen elk ‘n doelskop bygevoeg het.

Wanderers het geantwoord met drieë deur vleuel Joana van Staden en die skakelpaar Mandie van Staden en Dimitha Wagner.