Kudus veg vir wen toe Grootfontein uitsak

Klubrugby
Trustco United se vordering is op Rehoboth gestuit.
Andrew Poolman
FNB Kudus se ondersteuners het ‘n bevredigende naweek beleef toe hul span met ‘n vasberade oorwinning van 33-27 van hul wegwedstryd teen FNB Grootfontein na Walvisbaai kon terugkeer.

Die naweek se vier wedstryde het geen verandering vir enige span op die puntelys van die Namibië Rugby-unie se premierliga teweeg gebring nie; Kudus bly tweede en Grootfontein vierde.

Grootfontein was rustyd met 20-5 voor en kort daarna het hul haker en kaptein Wikus Jacobs sy derde drie gedruk danksy hul kragtige dryfmaalbewegings. Hul skrum het oorheers en vleuel Uroèl Marais (drie doelskoppe, twee strafdoele) het net met ‘n enkele skop pale toe misgekorrel.

Met die geluksgodin wat anderpad gekyk het, kon die tuisspan in die tweede helfte egter geen verdere punte byvoeg nie, met selfs net een verdere deurbraak wat moontlik die doodskoot vir die besoekers sou kon toedien.

Pleks daarvan moes Grootfontein met net ‘n verloorbonuspunt tevrede wees en moes hul wonde lek oor enkele duur glipse.

Linkervleuel Lasarus Joseph was op volspoed in spasie uit sy eie helfte (53ste minuut), maar Lloyd Jacobs het sy lugskoppie afgestorm en ver gehardloop voor sy binne-aangee vir skrumskakel Rayshawn Shoombe se drie wat Kudus se terugvegpoging aan die gang gesit het (12-27).

Nog ‘n potensiële doodskoot (34 minute) was toe Grootfontein se slot Myles Mudabeti weggebreek en oor die doellyn gebars het, maar Kudus se senter Justin Newman het gekeer dat hy die drie kon druk.

Kudus-vleuel Irongwa Atshivudhi het drie drieë teen sy vorige span gedruk, terwyl Tonderai Ndudzo (tevore Wanderers en Unam) vir die wendrie in die 72ste minuut deurgebreek het. Doelskoppe deur Shoombe en Kyle Wentzel was Kudus se ander punte.

Die haker Zwandre Viviers was agterna baie tevrede as Kudus se kaptein, nadat verskeie ervare spelers afwesig was weens troues, begrafnisse, werk of beserings.



Rehoboth skok United

Trustco United was die afgelope weke sonder ‘n paar staatmakers en moes tweede viool speel in hul wegwedstryd teen FNB Rehoboth (38-28).

Boet Matthews berig dit was skitterende rugby by die Hoërskool Rehoboth se veld.

“Dit was ‘n naelbyter soos min met albei spanne wat die skare op hul voete gebring het met aanskoulike hardlooprugby. Die wedstryd is in goeie gees gespeel. Rehoboth se Rooi Bulle was rustyd met 21-14 voor.”

Rehoboth se linkervleuel Manfred Garoeb het opnuut sy vaart uitgestal in sy drie drieë teen United. Die flank Keynnen Basson en senter en kaptein Miquel Busch het ook gaan druk het. Busch het met ‘n strafskop en elk van sy vyf doelskoppe geslaag, terwyl sy span twee geel kaarte (agtsteman Titus Mathias en haker Udo Mall) oorleef het.

United se enigste ligapunt is danksy sy vier drieë (skrumskakel Elzandro van Wyk, vleuel Christo Gresse, senter en kaptein JD Nel en heelagter Enrique Husselmann) wat al vier deur losskakel Ricardo Swartz verdoel is.

United se direkteur van afrigting Robbie Dixon het agterna gereken skeidsregter Zaid Isaacs kon dalk strenger opgetree het teen oortreders wat hul hande in losskrums gebruik.

Dixon het nogtans erken dat Rehoboth meer verdienstelike wenners op die dag was, omdat sy span in die eerste helfte nie op dreef kon kom nie. Hy het Garoeb se haastige lopies en losskakel Henrique Olivier se rol as spelskepper uitgesonder.



Unam baas teen Falcon

By die Unam-stadion het die vyfde geplaaste FNB Unam sy kanse vir die halfeindstryd lewendig gehou deur vyf drieë in ‘n sege met 31-18 teen FNB Reho Falcon te druk.

Vir die wenspan het heelagter Davitho van Wyk, vleuel Quirione Majiedt, skrumskakel Don Juan Beukes en sy plaasvervanger Cameron Klassen, asook die haker en kaptein Rowan Jansen drieë gedruk. Drie van losskakel Aljarreau Zaahl se doelskoppe was oor. Jansen het tien minute vir ‘n geel kaart uitgedien.

Aan Falcon se kant het vleuel Ashton van Wyk weer sy skopvernuf gewys met ‘n skepdoel en vier strafdoele, met nog een strafdoel deur Casey Beukes wat van die bank af sy terugkeer gemaak het.

Falcon (agtste) se afrigter Gerald Loubser sê: “Ons het net onsself te blameer en kan ook nie vinger wys na skeidsregter Anthonie de Greeff nie, wat sake goed hanteer het.

“Ons was vroeg op die aanval en het stewig gevaar in die vaste fasette, maar ons kon minstens drie keer nie afrond nie en het te maklik van ons beplande patroon afgewyk. In die later stadiums is ons ook gestraf as ons verdedigers nie in posisie kon kom en seker maak van hul duikslae nie.

“Nadat ons 13 spelers aan ander klubs afgestaan het, het ons vanjaar weer met ‘n jong span begin. Ek voel ons is steeds op die regte pad om in die topses klaar te maak.”



Suburbs klop Dolphin

By die Tamariskia-veld op Swakopmund het FNB Western Suburbs (sesde) soos verwag teen FNB Dolphin (negende) gewen, met die telling 45-19.

Ons kollega Adam Hartman berig Suburbs was rustyd met 19-5 voor, maar Dolphin het met twee vinnige drieë teruggekap, voor die Windhoekers hergroepeer en seker gemaak het hulle kry die maksimum ses ligapunte.

Suburbs se afrigter Jood Opperman het uitgewys dat sy span goed herstel het hoewel hy nie saamgestem het dat die skeidsregter hulle drie keer gestraf het wanneer hulle die oorheersende skrum gelewer het nie.

Vir die Khomasdallers het kaptein en agtsteman Dhale Cloete weer van die voorpunt gelei met twee drieë, met een elk vir vleuel Betinhu Benjamin, flank Delano van Wyk, haker Marcell Gariseb en die plaasvervangers Digo Ashipala en Richard Mupewa. Vyf van losskakel Nazume Swartz se doelskoppe was suksesvol.

Dolphin het met drieë deur senter Walter Johr, agtsteman en kaptein Cameron Markus en slot Jerome Schumann geantwoord, asook heelagter Zaino van Wyk se twee doelskoppe.