Likius wen Oranjemund Ope met drie houe

Gholf
Die verdedigende titelhouer Stefanus Bonifatius het tweede klaargemaak.
Die onlangse Sperrgebiet Ope by Oranjemund-gholfklub is vir die 30ste opeenvolgende jaar deur VIVO Energy Namibia geborg.

Likius Nande het as die algehele wenner uit die stryd getree deur met drie houe voor Stefanus Bonifatius te eindig. Ná die eerste dag was Nande en Bonifatius (verdedigende kampioen) gelyk in die eerste posisie en vyf houe voor Elias Mulombwelwa.

Soos gewoonlik het VIVO Energy nie teruggehou om weereens met aanloklike pryse, middag- en aandetes en gasvryheid 'n onvergeetlike kompetisie vir spelers te lewer nie. Die pryse het items soos selfone, luidsprekers en koopbewyse vir brandstof of gholftoebehore ingesluit.

Altesame 89 spelers het vanjaar deelgeneem. Vier vrouespelers en drie juniors het ook vir die Sperrgebiet Ope ingeskryf.

Spelers in die A-, B- en C-afdelings het op die Saterdag 36 putjies houespel gespeel en peler in die D-afdeling het 18 putjies stableford gespeel.

Die pryswenners:

Algehele bruto-wenner: 1 Likius Naande (220), 2 Stefanus Bonifatius (223)

Algehele netto-wenner: 1 Dennis Haimbondi (206), 2 Lesley Neib (208).

A-afdeling beste bruto: 1 Elias Mulombwelwa (230), 2 John Langeveldt (234).

A-afdeling beste netto: 1 Divvie de Wit (223), 2 Justus Nangolo Amutenya (223).

Pryse vir die houe naaste aan die pen is ingepalm deur Justin Naobeb (putjie 2), Elias Mulombwelwa (putjie 6), Walter Heibeb (putjie 13) en Petrus Shikongo (putjie 17).

• Op die dag voor die toernooi is ‘n ou tradisie gevolg met die aanbieding van die “VIVO Cup” waarin 'n Namibiese span, ‘n Namakwaland-span en vir die eerste keer 'n Oranjemund-span sake uitgespook het. Die formaat vir die oggendrondte was vierspel en in die namiddagsessie enkelspel – alles getel as putjiespel (matchplay).

Die Namibiese span het hul trofee suksesvol verdedig met 15.5 punte teen Namakwaland se 14.5 punte en Oranjemund se 7 punte.