Moria domineer Pro-Ed in Swakopmund
Rugby
OK Moria Privaatskool (35 ligapunte) en Compack Tsumeb Gimnasium (31) is die voorlopers. WHS (27) is derde en ook onoorwonne ná drie wedstryde.
As die ligavoorloper het die onoorwonne OK Moria Privaatskool Bere ‘n oortuigende vertoning gelewer in die Namibiese Sekondêre Skole Rugby (NSSR) premierliga, toe hulle die Inspares Pro-Ed Akademie Wolves Saterdag in Swakopmund met 39-0 oorrompel het.Die besoekers van Outjo het die gebiedsvoordeel en besit oorheers, sewe drieë gedruk en twee doelskoppe bygevoeg – sonder ‘n antwoord van hul teenstanders, in ‘n goeie vertoning van gestruktureerde en fisieke rugby.
Moria se kaptein Franco Engelbrecht sê hulle het doelbewus goeie rugby probeer speel.
“Ons het vooraf gesê ons wil goeie rugby speel en ons skool trots maak – en ek dink ons het dit reggekry. Baie dankie aan my spanmaats, afrigters, en aan die Here wat ons die vermoë gee om hierdie spel te speel.
“Baie dankie aan Pro-Ed vir ‘n harde wedstryd. Hulle het alles gegee en met goeie sportmangees gespeel.”
Pro-Ed se kaptein Marc Holloway het erken sy span was deurgaans onder druk. “Ons kan beslis verbeter. Maar ons broederskap is sterk – ons sal teruggaan na die tekenbord.”
Nog wenspanne
• By die Windhoek Gimnasium Lions Den het King Price Windhoek Gimnasium Saterdagoggend sy status as een van die toonaangewende spanne in die NSSR onder-19 premierliga gestand gedoen met 'n wegholoorwinning van 50-0 teen die besoekende Farmstyle Elnatan.
Omtrent 16 minute speeltyd was oor, maar ingevolge NSSR-reëls word die eindfluitjie geblaas sodra een span met ‘n vyftigtal die oorhand kry.
Gimnasium se driedrukkers was die flank Lihan Horn (twee), slot Buhlem Oelofsen (twee), senters JD Jankowitz (twee) en Pieter-Stephann Stassen, asook Juan van Wyk wat as 'n agterspeler opgestuur is. Doelskoppe is deur die heelagter Xavier de Wee (twee), JD Jankowitz (twee) en losskakel JD Meintjies (een) bygevoeg.
• Die titelhouer Samsung Windhoek Hoërskool (WHS) het ook onoorwonne gebly deur sy tuiswedstryd teen Autohaus Windhoek Afrikaanse Privaatskool met 36-25 te wen.
Die WHS Koedoebulle se driedrukkers was die flanke Lorenzo Awaseb en sy kaptein Pieter-Jan Strydom, heelagter William Beukes en reserwe-agterspeler Caleb Buys, met een doelskop deur Beukes, drie doelskoppe en ‘n strafdoel deur losskakel Mc-Rein van Wyk.
• Compack Tsumeb Gimnasium was op sy tuisveld met 29-6 aan die wenkant teen sy besoekers De Duinesig en het vyf drieë teenoor nul gedruk.
Die Walvisbaaise kombinasie van die hoërskole Duinesig en De Duine se enigste punte was die twee strafdoele deur die losskakel Sergio Pamplin.
Met vier drieë vir Tsumeb het Russel Bartlett as kaptein en agtsteman sy stempel afgedruk, met nog een drie deur losskakel Pedri Lacante. Doelskoppe (een elk) is deur Grant Ras (vleuel) en Charl Cilliers (skrumskakel) bygevoeg.
Tsumeb se afrigter Wouter Niehaus sê: “De Duinesig het beslis potensiaal om vir enige span ‘n probleem te raak indien die wedstryd begin los raak.
“Ek is baie trots op ons span dat hulle by die strukture gehou het en seker gemaak het ons kom weg met ‘n vol bonuspunt tuiswedstryd teen ‘n baie onvoorspelbare opponent.
“Baie geluk ook aan Russel met ‘n kapteinsbeurt, vir die harde werk van sy span om strukture op te sit. Om beloon te word met vier drieë , is ‘n uitsonderlike prestasie.”
• Komende Saterdag se bepalings: Namib Diesel WBPS teen Whk Gim by Naartjiepark / Compack Tsumeb Gim teen Autohaus WAP op Tsumeb / Samsung WHS 1tn Inspares Pro-Ed Akademie by FNB WHS Vegkop / OK Moria tn De Duinesig 1 op Outjo.
• Puntetabel, uitslae en komende bepalings by www.rugby.my.na/
Comments
My Zone
No comments have been left on this article