Moria nie te klein om WHS in Superliga te onttroon
Skolerugby
Die toewyding en vasberadenheid van die noordespan was eenvoudig onblusbaar – selfs vir die gedugte WHS Koedoebulle.
Die eerste triomf in die geskiedenis vir OK Foods Moria Privaatskool in die My Zone NSSR onder 19 Superliga-rugbyfinaal is om verskeie redes merkwaardig, ná ‘n onvergeetlike, aksiebelaaide eindstryd teen Samsung Windhoek Hoërskool wat 95 punte opgelewer het.Moria het vriend en vyand agter hulle verenig met ‘n uitmuntende sege van 55-40 wat die verbeelding aangegryp het. Nie sommer enige skoolspan klop King Price Windhoek Gimnasium in die semifinaal én WHS in die eindstryd nie.
Die privaatskool van Outjo het nie eens genoeg seuns om ‘n o.19-span vol te maak nie en het vanjaar ondanks die beduidende logistieke uitdagings met Edugate van Otjiwarongo asook Otjiwarongo Sekondêre Skool saamgespan. Twee keer per week is die 70 kilometer met ‘n bussie heen en weer gery vir oefensessies.
Hierteenoor was hul opponent, die WHS Koedoebulle, die heersende titelhouer wat in die 2024-finaal vir Windhoek Gimnasium geklop en die vorige jaar teen Gim in die finaal gelykop gespeel het. WHS se eerste span het 25 wedstryde op ‘n streep gewen vandat hulle in 2023 laas ‘n wegwedstryd teen Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool verloor het.
Feitlik die ganse agterlyn van die WHS Koedoebulle het in die laaste twee jaar Namibiese skolespanne verteenwoordig. Skrumskakel Dominique Isaacs het saam met die Namibiese o.20-span na Zimbabwe getoer – net soos Moria se binesenter Jano Erasmus.
Saterdag het WHS ná 32 minute met 26-12 en rustyd met 26-19 voorgeloop, met hul losskakel Mc-Rein van Wyk wat met twee puik skepdoele, een drie, ‘n strafdoel en twee doelskoppe (20 punte) sy talent in ‘n drukkoker van ‘n eindstryd uitgestal het.
Die WHS-agtsteman en -kaptein Pieter-Jan Strydom het voor om ‘n lynstaan vir ‘n drie gestorm, terwyl senter Ethan Sinden, flank Isaiah Kazondovi en skrumskakel Dominique Isaacs ook driedrukkers vir die Koedoebulle was.
Met nege drieë teen vyf het Moria egter stelselmatig sy greep verstewig – veral ná WHS se laaste verdoelde drie deur Isaacs wat die Windhoekers ná 53 van die 70 minute met 40-38 laat voorloop het.
Die boodskap met rustyd aan Moria was onteenseglik dat WHS hulle niks verniet sou gee nie, maar dat die noordespan die oorwinning sou moes verdien – wat die geel-en-swart streeptruie ook gedoen het. Die hoëtempo werkverrigting op aanval en verdediging van Moria se Bere was ‘n lus om te aanskou.
Die Moria-flank Benjamin Mostert het hul eerste drie vanaf ‘n lynstaandryf gedruk, voordat hy in die tweede helfte op sy pos was om ‘n lopie van sy kaptein en heelagter Frank Engelbrecht af te rond.
Loskopstut Johan Gabrielsen, die vuurvreterflank Keyo Kruger en agtsteman Armand Esterhuizen het van naby die doellyn vir kragdrieë oorgebars nadat die span stelselmatig tot daar gevorder het. In die tweede helfte het hul flink agterlynspel ook tot die drieë vir losskakel Jurian Dreyer, heelagter Franco Engelbrecht, linkervleuel Drikus Maartens en binnesenter Jano Erasmus gelei. Vier van senter Bertus Narib se doelskoppe het geslaag.
Keyo Kruger het agterna twee trofeë as topspeler van die eindstryde, asook die algeheel mees waardevolle speler ontvang.
Die toewyding van Moria se afrigterspan van Reino du Toit, TW Koorts, Pieter-Willem Esterhuizen en Herman Grobler, asook spanbestuurder Dakkie Anthonissen het ook nie ongesiens verby gegaan nie.
’n Droom vir die Noorde
Kaptein Franco Engelbrecht het agterna verwoord wat hierdie deurbraak vir die gemeenskap en vir sy span beteken.
“Omtrent ons hele dorp was hier (in die Hage Geingob-stadion). Ek dink hierdie oomblik wat ons nou beleef het, het geskiedenis gemaak – nie net in Outjo nie, maar dis ‘n droom wat vir die hele Noorde waar geword het. Hierdie is ‘n bewys dat maak nie saak hoe klein is jou skool nie, of waarvandaan jy kom nie – ons kan hierdie doen.
“Baie dankie aan WHS ... hulle het dit rêrig hard gemaak; dit was ‘n baie lekker wedstryd.”
• Volledige uitslae van die eindstryde in die ander ouderdomsgroepe van die My Zone skolerugbyligas vandag op bladsy 2.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article