Naartjies veg terug en hou WAP tot 15-15
Walvisbaai Privaatskool se eerste rugbyspan, bekend as die PSG Naartjies, moes gister in die tweede helfte verbete terugveg voordat hulle op hul tuisveld Naartjiepark ‘n gelykopuitslag met 15-15 draw teen Autohaus Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) kon afdwing.
In beide spanne se openingswedstryd in die Momentum NSSR o.19 premierliga het WAP vroeg beheer geneem en met 10-0 voorgeloop toe die rustydfluitjie blaas. Die Windhoekers het stewig verdedig en het gul kanse afgerond.
Die kusspan het vlugtige oomblikke van belofte op die aanval gewys, maar Windhoek Affies se dissipline en gestruktureerde verdediging het hul voorsprong ná die eerste 35 minute beskerm.
Die tweede helfte was egter ‘n ander storie. Die Naartjies het hernude intensiteit gevind en het voortdurende druk toegepas, wat vrugte afgewerp het met hul eerste strafdoel terwyl hulle hulself stelselmatig terug in die prentjie bevind het.
‘n Keerpunt was toe die vleuel Carlos Loveira asook Caleb Beukes vanaf die reserwebank opgestuur is. Beide het dadelik vir die Walvisbaaiers ‘n impak gemaak, met spoed en energie op die aanval, en het ‘n aandeel gehad in die belangrike drieë wat die Naartjies gelykop laat eindig het.
Terwyl WAP deur die verskuiwing in momentum op die agtervoet gedwing is, het die wedstryd se vlak van dissipline ook agteruit gegaan en skeidsregter Anthonie de Greeff het vir drie spelers geel kaarte gewys. Vele onderbrekings het die vloei van die spel benadeel, terwyl spanmaats moes wal gooi weens die afwesigheid van die spelers in die koelkas.
Die Naartjies se vasberadenheid om seker te maak hulle verseker twee ligapunte vir die gelykopuitslag sou hulle meer verlig laat voel toe die eindfluitjie blaas, terwyl Windhoek Affies dalk sal kopkrap oor waar dinge skeef geloop het.
• Die volgende rondte wedstryde in die Momentum NSSR o.19 premierliga word op 6 Junie as ‘n “Super Saterdag” by Elnatan se veld op Stampriet aangebied.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article