Nairobi verwelkom Mboma vir nuwe hoofstuk

Atletiek
Christine Mboma begin skryf Saterdagnamiddag aan 'n nuwe hoofstuk in haar atletiekloopbaan.
Tielman Van Lill
Atletiek Kenia bied Saterdag sy vyfde Kip Keino Classic-byeenkoms by die Nyayo Nasionale Stadion in Nairobi aan – bes moontlik die gewildste en mees aansienryke jaarlikse byeenkoms in Afrika vir hoëprofiel atlete.

Die Kip Keino Classic is ook by Wêreldatletiek se Goue Kontinentale Toer-reeks ingesluit.

Dit was in die einste Nairobi waar Christine Mboma op 20 Augustus 2021 net die tweede 200 meter-wedloop van haar loopbaan buite Namibië by die o.20-wêreldkampioenskap gehardloop het.

Later dieselfde dag het sy haar semifinaal gewen en die volgende dag in 21.84 sekondes die o.20-wêreldkampioen geword. Dit was 18 dae nadat sy die Olimpiese silwermedalje in Tokio in 21.81 verower het.

Saterdag keer sy ná 31 maande vir die eerste keer terug na Nairobi vir die Kip Keino Classic waar sy op 17 September 2021 vir haar tweede laaste 200 in ‘n Afrika-byeenkoms in die wegspringblokke gesak het. Maar dié slag sal sy net vir die 100 meter opwarm.

Mboma se laaste 200-wedloop was in April 2022 in Gaborone, Botswana, waar sy 21.87 behaal het. Sy het ook haar laaste 100 byna twee jaar gelede daar in 10.97 gewen het.

In Januarie 2022 het die voormalige middelafstandhardloper haar eerste 100 in Swakopmund gehardloop en met ‘n wentyd van 11.25 op seevlak die wenkbroue laat lig. Sy het daardie jaar aan altesaam vyf 100-wedlope deelgeneem en in volgorde onderskeidelik 11.25, 11.15, 11.03, 10.90 en 10.97 aangeteken.

‘n Knaende besering het haar in 2022 getref, maar sy het sodanig herstel dat sy op 6 Augustus in Birmingham by die Statebondspele ‘n bronsmedalje in die 200 met 22.80 opgeraap het.

Hierna het Wêreldatletiek sy testosteroongordyn ongenaakbaar oor haar loopbaan laat sak – totdat sy op 5 April vanjaar weer die groen lig van dié beheerliggam verkry het om weer amptelik die 100 en 200 te mag hardloop.

Ongeag die uitslag komende Saterdagnamiddag in Nairobi, sal haar amptelike terugkeer tot die baan vir beide Mboma en haar afrigter Henk Botha ‘n triomfantelike persoonlike oorwinning wees.

Mboma kan moontlik die spykerskoene vir die 100 aantrek teen Gina Bass (Gambië; wenner by die onlangse Afrikaspele in Ghana), Rani Rosius (België), Lilly Kaden (Duitsland), Shannon Ray (VSA), Hemida Bassant (Egipte), Alana Reid (Jamaika), Esther Mbagari (Kenia) en Michelle-Lee Ahye (Trinidad en Tobago).

Afrika se vinnigste vrou oor die 100 in die geskiedenis, Marie-Josée Ta Lou-Smith van die Ivoorkus, het nog nie vanjaar gehardloop nie. Sy het wel in 2023 blitsige tye behaal – insluitend ‘n 10.75 wat so raak-raak aan haar kontinentale rekord van die vorige jaar (10.72) was.

HAAR OPPOSISIE

Hoe lyk Mboma se mededingers se mees onlangse 100-tye?

Bass (11.35, Maart 2024), Rosius (11.18, Augustus 2023), Kaden (11.42, Julie 2023), Ray (11.31, April 2024), Bassant (11.09, April 2023), Reid (11.09, April 2024), Mbagari (11.60, Januarie 2024) en Ahye (11.16, Augustus 2023).

Van die mededingers is die 19-jarige Reid bes moontlik die vinnigste van die vroue met ‘n blink toekoms voor haar. Die tienerblits het as 16-jarige die 100 in 11.62 (2021), op 17 in 11.22 (2022) en op 18 in 10.92 (2023) kafgedraf. Haar 11.09 is die sewende vinnigste sover in 2024. Die 10.92 van verlede jaar het haar die 14de vinnigste vrou in die wêreld gemaak.

Bass is tans 23ste op Wêreldatletiek se ranglys, gevolg deur Rosius (27ste), Bassant (30ste), Ahye (38ste), Ray (49ste) en Reid (56ste).

Mboma was op 3 Mei 2022 met haar 10.97 in die 34ste posisie op Wêreldatletiek se 100-ranglys, maar in die 200 was sy die onbetwiste nommer een. Haar 10.97 was egter net die 30ste vinnigste tyd vir 2022.

Daar is tans geen aanduiding wat Mboma se tyd Saterdag kan wees nie. Al waarvoor Mboma tans werk, is om op dreef te kom en dan stelselmatig vir die 2024 Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, te kwalifiseer. Sy het tot 30 Junie tyd op haar hand vir dié taak op te steek.

VUURWARM NAELLOPE

Die Kip Keino Classic kan kykers ook hul hande in afwagting vryf vir die mans se 200 meter, waar Botswana se 20-jarige sensasie Letsile Tebogo ingeskryf is.

Tebogo het reeds vanjaar hoogtepunte bereik soos om die 300 meter se wêreldrekord met 30.69 agter sy naam te skryf en daarmee Wayde van Niekerk se 30.81 te oortref.

Geen ander man het ook al vanjaar vinniger as sy beste 200 óf 400 (19.94 en 44.29) gehardloop nie.

Die 100-tweestryd tussen Afrika se vinnigste man, Ferdinand Omanyala van Kenia, en die Amerikaner Kenneth Bednarek (Olimpiese silwermedaljewenner) beloof ook om ‘n elektriese atmosfeer te lewer.

Verskeie ander medaljewenners by die Olimpiese Spele en wêreldkampioenskappe sal Nairobi se Nyayo-stadion met hul beste prestasies vereer.