Nande haal uit en wen 2025 Namibiese Ope-titel
Gholf
Die gedugte Nande het die nasionale titel met 'n voorsprong van twaalf houe afgesluit.
Dit was die afgelope naweek die Rössmund gholfbaan buite Swakopmund se beurt om die 2025 FNB Namibiese Ope gholfkampioenskap aan te bied. Die toernooi het 'n veld van 50 inskrywings gelok, wat al die groot klubs in Namibië verteenwoordig het.
Weersomstandighede was nogal intens vanweë oosweertoestande wat in 'n stadium temperature rondom 40 grade Celsius uit die binneland ingebring het. Die spelers het tydens Saterdag se 36 putjies gesukkel om gehidreer te bly.
Sondagoggend was 'n bietjie koeler en effens meer gunstig, maar nie naastenby perfek nie.
Aan die toppunt van die voorloperbord het Stefanus Bonifatius en Walter Heibeb elkeen met 'n rondte van 70 (twee onder baansyfer) probeer inhaal, maar Likius Nande se bruto telling van 76 het die kampioenskap beklink.
In die C-afdeling was Henry Louw ná Saterdag voor op 75 bruto, met Achmet Abrahams en Steven Massipa een hou agter. Sondag het Theo Joubert met 'n goeie bruto rondte van 87 genoeg gedoen om teen Henry Louw die knoop deur te haak.
Die Rössmund-klub bedank al die spelers wat die toernooi in uitdagende omstandighede 'n reuse-sukses gemaak het.
Franzel Beukes en Wikus Isaak was byderhand om FNB Namibia te verteenwoordig. Marco Swarts was byderhand om toesig te hou oor die toernooi en die NAGU hoofbestuur te verteenwoordig.
Die organiseerders waardeer ook FNB Namibia as die hoofborg van die Namibiese Ope-toernooi, asook die personeel van Rössmund-gholfklub sonder wie die toernooi nie moontlik sou wees nie.
Die finale uitslae
Kampioen (algehele beste bruto): 1 Likius Nande (Windhoek gholfklub, 212 houe); 2 Stefanus Bonifatius (Grootfontein, 224).
Algeheel beste netto: 1 Wensley Haseb (Tsumeb, 212); 2 Quinton Jonck (Rössmund, 217).
A-afdeling beste bruto: 1 Elias Mulombwelwa (Windhoek, 231); 2 Nelson Johannes (Oshakati, 233).
A-afdeling beste netto: 1 Walter Heibeb (Tsumeb, 221, uittel); 2 Paulus Shifonono (Windhoek, 221).
B-afdeling beste bruto: 1 Mario Polster (Walvisbaai, 247); 2 Jeremiah Andreas (Oshakati, 257, uittel).
B-afdeling beste netto: 1 Jivino Polster (Walvisbaai, 221), 2 Helmut Ndjendja (Rössmund, 225).
C-afdeling beste bruto: 1 Theo Joubert (Rössmund, 181); 2 Henry Louw (Rössmund, 187).
C-afdeling beste netto: 1 Steven Massipa (Grootfontein, 154); 2 Achmet Abrahams (Rössmund, 155).
Junior wenner: Samuel Nel (Walvisbaai), bruto 237 (A-afdeling).
Comments
My Zone
No comments have been left on this article