Nasfed bou voorsprong by Sone 4-kampioenskap
Die Namibiese Watersportfederasie (Nasfed) se span het die afgelope twee dae in Gaborone hul talent ten toon gestel by die 22ste Afrika Sone 4-kampioenskap (02-05 September).
Die kampioenskap aangebied by die swembad van die Universiteit van Botswana sal tot Saterdag voortduur.
Twaalf lande – Angola, Botswana, Eswatini, Namibië, Madagaskar, Malawi, Mauritius, Mosambiek, Seychelles, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe – ding mee.
Van die Namibiese verteenwoordigers by die Statebondspele in Glasgow vroeër vanjaar het hulle reeds met medaljes laat geld, insluitend Jessica Humphrey met goud in die 200m rugslag (2:21.86) vir meisies 17 en ouer, met haar spanmaat Nora Schlabitz wat die brons in dié item verwerf het (2:45.61).
Humphrey was ook baas in die 100 rugslag (1:03.37) met Schlabitz wat nog ‘n brons by die Namibiese oes gevoeg het.
Molina Smalley het die goue medalje in die 200-meter rugslag vir meisies 17 en ouer ingepalm (2:46.66), met Ariana Naukosho (vierde) wat die podium net-net met minder as 0.2 sekonde misgeloop het.
Oor ‘n langer afstand, in die 800 vryslag, was daar ook geen keer aan Smalley nie, wat in tien minute 02.06 sekondes gewen het.
Vitoria de Sousa was selfs haastiger in die 800 vryslag, waarin sy haar ouderdomsresies vir meisies 15-16 in 9 minute 39.36 beklink het, met die silwer ook vir Namibië se Sandra Schnebel (9:46.87).
Roselinda Matyayi het eerste in die 100 rugslag klaargemaak (1:07.06) met haar landgenoot Ainoa Naukosho vierde. Matyayi het ook ‘n goud in die 200 rugslag losgeswem (2:31.91) met die silwer vir Schnebel voor die Suid-Afrikaanse swemmer wat derde klaargemaak het.
Aaliyah Losper (meisies 11-12) is net deur ‘n swemmer van Seychelles geklop in die 200 rugslag vir ‘n silwermedalje in 2:46.04.
Die jong Oelof Badenhorst (seuns 11-12 jaar) het nie net die goue medalje in die 200 borsslag verseker nie, maar het dit ook in ‘n nuwe nasionale rekordtyd in sy ouderdomsgroep (2:47:05) vermag en sodoende een van Oliver Durand se vele vorige inskrywings uit die rekordboeke gevee. Laasgenoemde se jongboet Patrick Durand was tweede in dié resies in 2:55.68.
Nog een van Badenhorst se suksesse was goud in die 50 borsslag (35.57) met sy spanmaat Julian Erni vierde.
Oliver Durand het ook reeds ‘n goue medalje in die 100 rugslag vir seuns 17 en ouer gewen (0:58.26), met sy mede-Namibiër Arkell Wellmann in die tweede plek (1:02.31).
In die 200 rugslag was dit Wellmann se beurt om die boonste podiumposisie te verseker (wentyd 2:16.16) met meer as ses sekondes voor Mauritius en Malawi as sy naaste kompetisie.
Christian van der Westhuizen het met ‘n goue poging in die 50 borsslag vorendag gekom (34.01) met Rodney Feris in die vierde posisie.
Van die Namibiese suksesse is ook in die spanaflositems behaal. Die seuns 15-en-ouer het die 4x100 meter wisselslag se goue medalje in drie minute 57.32 sekondes gewen. Oor dieselfde afstand was die Namibiese meisiesaflosspan 15-en-ouer ook eerste klaar in 4 minute 34.77 dekondes.
Die saamgestelde puntestand ná die derde sessie was gister soos volg:
1 Namibië 806
2 Botswana 588
3 Suid-Afrika 562
4 Zimbabwe 534
5 Seychelles 369
6 Zambië 353
7 Mosambiek 333
8 Angola 318
9 Mauritius 235
10 Eswatini 181
11 Malawi 155
12 Madagaskar 79
Die Namibiese span in Gaborone is:
Meisies: Suraya Ashikoto, Vitoria de Sousa, Mika Fourie, Jessica Humphrey, Laila Joubert, Aaliyah Losper, Roselinda Matyayi, Dané Mostert, Trisha Mutumbulua, Ainoa Naukosho, Ariana Naukosho, Nora Schlabitz, Sandra Schnebel, Molina Smalley, Roze van Wyk.
Seuns: John Archer, Oelof Badenhorst, Luke Beukes, Daniel Bock, Malik Borman, Aiden Diehl, Oliver Durand, Patrick Durand, Victor Engelhard, Julian Erni, Lorenzo Esterhuizen, Rodney Feris, Joshua Klukowski, Jeremy Musati, Christian van der Westhuizen, Arkell Wellmann.
Die toerspan word deur die afrigters Jane Samson en Nadia Jansen van Rensburg vergesel, met Cecilia Horsten as spanbestuurder.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article