Nederland blus veggees van Yasmeen en haar maats

Krieket
Andrew Poolman
Sunè Wittmann en haar Namibiese vrouekrieketspan het gister met tye goeie veggees teen ‘n hoër gerekende opponent gewys, maar het nogtans met 51 lopies teen Nederland verloor.

Die Capricorn Eagles het sover nog net een wedstryd by die ICC vrouetoernooi vir ontluikende nasies in Bangkok, Thailand, gewen toe hulle ‘n lae kolftotaal teen Uganda suksesvol verdedig het.

Nadat Nederland gister ingestuur is om eerste te kolf, het die oranje span ‘n stewige telling van 164 vir ses in hul 20 boulbeurte opgestel.

Nadat die Eagles vroeër in die toernooi selde die wêreld aan die brand gekolf het, was dit ‘n ligpunt dat hulle teen Nederland 113 almal uit (in 16.2 boulbeurte) kon haal, hoewel hulle ooglopend steeds tot veel beter in staat is.

Yasmeen Khan het die lopiejaagtog met ‘n uitstekende aanvallende kolfbeurt van 41 lopies van net 15 balle laat vlamvat, met sewe viere en die enigste twee sesse van die wedstryd.

Khan het in die vyfde boulbeurt van Robin Rijke die eerste twee balle vir grenshoue geslaan en die volgende twee balle met sesse oor die grenstou gelig.

Ten spyte van goeie veggees en aanduidings van hul volle potensiaal, kon Namibië egter nie die bestendigheid en dissipline van hul Europese eweknieë ewenaar nie.

Glipse in hul veldwerk, verbroude vangkanse en paaltjies wat opeenvolgend verloor is, was van die swakpunte wat hul uitdaging belemmer het. Agt van die Namibiese kolwers het minstens een grenshou geslaan, maar Naomi Benjamin (10) en Sylvia Shihepo (11) was die enigste ander twee wat dubbelsyfers gehaal het.

Die speler van die wedstryd was Fredrique Overdijk van Nederland met 4/18 in 3.2 boulbeurte.

• Die Namibiërs het Dinsdag teen Skotland eerste gekolf en is vir 74 uitgeboul, met net Edelle van Zyl (12 van 16 balle) wat dubbelsyfers kon bydra. Die onoorwonne Skotte het met 76/3 in 8.4 boulbeurte geantwoord en het met sewe paaltjies gewen.

• Ná ‘n rusdag Donderdag, is die Eagles se twee oorblywende wedstryde Vrydag teen Papoea-Nieu-Guinee (vanaf 08:45 Namibiese tyd) en teen die Verenigde Arabiese Emirate (Sondag vanaf 04:30).