Nichol raap prys as speler van die reeks op

Krieket
Die FNB Eagles het drie van hul vyf eendagwedstryde teen Vidarbha gewen tydens hul laaste voorbereiding voor die Krieketwêreldbeker Liga 2-reeks in Nederland, waar kaptein Gerhard Erasmus en Nicol Loftie-Eaton uitgestaan het.
Tielman van Lill

Nederland en Nepal wag op Namibië in Utrecht (Nederland) nadat die FNB Eagles die geleentheid gehad het om in vyf eendagwedstryde (50 boulbeurte per span) wedstrydfiks te word.

Die First National Bank (FNB) Eagles, Namibië se nasionale manskrieketspan, het drie van die vyf eendagwedstryde teen die besoekende Indiese staatspan van die Vidarbha-krieketvereniging in Windhoek gewen.

Hoewel die Eagles die eerste drie botsings ingepalm het, was dit teleurstellend dat hulle die laaste twee ontmoetings teen Vidarbha verloor het. Dié reeks was die ideale geleentheid vir Namibië om vir oulaas te slyp voordat hulle teen Nederland en Nepal in vier internasionale eendagwedstryde van die Krieketwêreldbeker Liga 2-kompetisie op die veld stap.


Vidarbha teen die Eagles

Die vierde ontmoeting is op 8 Julie gespeel. Namibië het eerste gekolf en is tot 247 lopies vir ses paaltjies in 50 boulbeurte (bb) beperk. Vidarbha (252/9) het egter die wenteiken van 248 lopies in 49.5 boulbeurte verbygesteek om met een paaltjie te wen.

Mandar Mahale (87 lopies, 115 balle, 7x4, treftempo 76%) en Parth Rekhade (63, 62 b, 4x4, 2x6, 102%) was Vidarbha se beste kolwers van die dag. Die besoekers het 25 grenshoue (20x4, 5x6) vir 110 lopies aangeteken.

JJ Smit, Ruben Trumpelmann en JC Balt het twee paaltjies elk vir die Eagles geneem, terwyl Ben Shikongo en Bernard Scholtz met een slagoffer elk bygedra het.

Die Eagles se kaptein, Gerhard Erasmus, het op nommer vier vir ’n noemenswaardige reddingspoging gesorg nadat Namibië eers op 32/2 in 12.1 bb en daarna op 44/3 in 16.3 bb gestrompel het. Op daardie stadium het die Eagles teen slegs 2.75 lopies per boulbeurt aangeteken. Erasmus (118* nie uit, 101 b, 7x4, 6x6) het egter die Indiese boulers aangevat en teen ’n treftempo van 117% die telbord aan die gang gehou. JJ Smit (42, 61 b, 2x4, 2x6, 69%) op nommer ses het goed gekolf, maar is ongelukkig uitgehardloop.

Nadat Smit in die 40ste boulbeurt uit was, het die Eagles in die laaste tien boulbeurte nog 89 lopies aangeteken, waarvan 54 van Erasmus se kolf gekom het. Die Eagles het 22 grenshoue (13x4, 9x6) vir altesaam 106 lopies geslaan.

Saurabh Dubey en Parth Rekhade (speler van die wedstryd) het elk twee paaltjies vir Vidarbha laat kantel, terwyl Aditya Thakre een geneem het.


Laaste ontmoeting

Vidarbha 298/9 (48.3 bb), Namibië 297/5 (50 bb)

Hoewel Vidarbha meer kolwers verloor het en die Eagles ’n uitstekende telling op die telbord geplaas het, het die gaste 32 lopies meer met grenshoue aangeteken.

Die Eagles het weer eerste gekolf. Michael van Lingen (111, 112 b, 12x4, 2x6, 99%) was die speler van die wedstryd met sy uitmuntende honderdtal van 104 balle. Met dié vertoning het hy bewys dat hy weer in uitstekende vorm is.

Alexander Volschenk (71, 95 b, 4x4, 2x6, 75%), Nicol Loftie-Eaton (36, 32 b, 3x4, 1x6, 113%), Zane Green (24* nie uit, 26 b, 2x4, 92%) en veral Ruben Trumpelmann (36, 17 b, 1x4, 3x6, 212%) het die Vidarbha-boulers behoorlik onder druk geplaas.

Die Eagles het 31 grenshoue (23x4, 8x6) vir 140 lopies geslaan.

Aditya Thakre en Mandar Mahale het twee paaltjies elk geneem, terwyl Saurabh Dubey een geneem het.

Vidarbha se voorste kolwers was Faiz Sheikh (32, 43 b, 5x4, 74%), Vedant Jajoo (47, 46 b, 7x4, 1x6, 102%), Yash Kadam (79, 59 b, 8x4, 5x6, 134%), Jagjot Singh (47, 49 b, 1x4, 3x6, 96%) en Parth Rekhade (51* nie uit, 43 b, 2x4, 3x6, 119%). Hulle het 37 grenshoue (25x4, 12x6) vir 172 lopies aangeteken.

Jack Brassell (4/47 in 10 bb) was op sy stukke en het slegs 4.7 lopies per boulbeurt afgestaan. JC Balt (3/60 in 10 bb) en Max Heingo (1/52 in 8 bb) was effe duurder, maar het steeds goed geboul. Ongelukkig was Loftie-Eaton (1/44 in 5.3 bb teen 8 lopies per boulbeurt) en Waldo Smith (0/41 in 5 bb teen 8.2) aan die ontvangkant van die Vidarbha-kolwers.


Statistiek

Hoogste telling: Vidarbha (298/9). Tweede hoogste telling: Namibië (297/4 en 297/5). Laagste telling: Vidarbha (226/10). Altesaam 71 paaltjies het geval vir 2 662 lopies van 2 938 balle. Daar is 191 viere en 77 sesse geslaan. Sestien vyftigtalle en drie honderdtalle is aangeteken. Drie kolwers is vir nul uitgehaal en 44 vangskote is benut. Hoogste kolftelling: Gerhard Erasmus (118* nie uit). Beste boulsyfers: Nicol Loftie-Eaton (4/18).


Topspelers van die reeks

Kolwers

  1. Mandar Mahale (5 kolfbeurte, 235 lopies, 16x4, 4x6).
  2. Jan Frylinck (4, 205, 18x4, 5x6).
  3. Gerhard Erasmus (2, 201, 13x4, 9x6).
  4. Nicol Loftie-Eaton (4, 172, 9x4, 7x6).
  5. Yash Rathod (4, 167, 12x4, 1x6).
  6. Alexander Volschenk (5, 156, 9x4, 4x6).
  7. Yash Kadam (4, 152, 14x4, 8x6).
  8. Jagjot Singh (5, 140, 6x4, 5x6).
  9. Parth Rekhade (5, 139, 7x4, 6x6).
  10. Michael van Lingen (3, 130, 14x4, 2x6).


Boulers

  1. Jack Brassell (10 paaltjies vir 215 lopies in 40 bb; beste boulsyfers 4/47).
  2. Saurabh Dubey (9/230 in 43 bb; 4/48).
  3. Nicol Loftie-Eaton (9/116 in 19.1 bb; 4/18).
  4. Aditya Thakre (7/215 in 42 bb; 3/34).
  5. JJ Smit (6/116 in 28.5 bb; 2/32).
  6. Ruben Trumpelmann (6/199 in 40 bb; 3/45).
  7. JC Balt (6/167 in 30 bb; 3/60).
  8. Parth Rekhade (4/189 in 46 bb; 2/28).
  9. Gerhard Erasmus (2/74 in 13.5 bb; 2/24).
  10. Max Heingo (2/181 in 30 bb; 1/52).


Topranglysspelers

  1. Nicol Loftie-Eaton (538 punte).
  2. Mandar Mahale (371).
  3. Parth Rekhade (361).
  4. Gerhard Erasmus (334).
  5. Ruben Trumpelmann (325).
  6. Saurabh Dubey (301).
  7. Jack Brassell (286).
  8. Jan Frylinck (275).
  9. JJ Smit (256).
  10. Yash Kadam (237).

Die FNB Eagles se eerste wedstryd is op 21 Julie teen Nepal.